21 DESEMBER 2023
WÊRELDNUUS
Die dorp Fishkill, New York, VSA, gee toestemming vir nuwe ondersteuningsentrum van Jehovah se Getuies
Op 27 Oktober 2023 is die planne vir die nuwe konstruksie by die Bethelfasiliteite in die dorp Fishkill, New York, VSA, goedgekeur. Hierdie goedkeuring van die dorp se beplanningsraad beteken dat die werk aan die nuwe Fishkill-Ondersteuningsentrum van Jehovah se Getuies onmiddellik kan begin.
Die Fishkill-Bethelfasiliteite is omtrent 64 kilometer noord van die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, VSA. Die broers en susters wat by Fishkill dien, se toewysings sluit onder andere rekenaarondersteuning en inligtingstegnologie in.
Die nuwe geboue sal gebou word op ’n eiendom van 23 hektaar wat oorkant die straat van die bestaande Bethelfasiliteite is. Die ondersteuningsentrum sal ’n dubbelverdieping-kantoorgebou van 4 366 vierkante meter, ’n instandhoudingsgebou van 1 393 vierkante meter en ’n ontspanningsentrum van 1 393 vierkante meter insluit. Ontspanningsareas wat buite is, word ook beplan. Die fasiliteit is so ontwerp dat dit nie die omgewing sal beskadig nie.
Terwyl die grootste deel van die konstruksiewerk nie deur broers gedoen sal word nie, sal ’n paar broers wat by Bethel dien, daaroor toesig hou. Daar word verwag dat die fasiliteit teen Oktober 2025 voltooi sal wees.
Broer Jason Kahle, wat op die oomblik by die Fishkill-Bethel dien, sê: “Tot nou toe het die Fishkill-Bethel hoofsaaklik uit woongeboue bestaan met geen gesamentlike werk- en ontspanningsareas vir dié wat daar bly nie. Maar hierdie nuwe fasiliteite sal vir baie van ons ’n plek voorsien waar ons bymekaar kan kom en saam kan werk. Ons sien baie uit na die voltooiing van hierdie nuwe ondersteuningsentrum!”
Ons is baie bly oor die aankondiging van hierdie bouprojek wat dié wat by die Fishkill-Bethel dien, nog meer sal verenig. Ons bid saam met hulle vir Jehovah se rykste seën op hierdie opwindende projek. – Psalm 127:1.