Spring na inhoud

21 APRIL 2020
WÊRELDNUUS

Gedenkmaal vir 2020 – JW.ORG

Meer mense besoek ons amptelike webwerf as ooit tevore

Gedenkmaal vir 2020 – JW.ORG

Mense regoor die wêreld kry swaar as gevolg van die COVID-19-pandemie. Gedurende hierdie tyd het Jehovah se Getuies hulleself ingespan om meer te preek gedurende die Gedenkmaalseisoen. As gevolg hiervan het meer mense die webwerf jw.org besoek om vertroosting uit die Bybel te kry en om op datum te bly met wat gebeur. In Maart het meer as 50 persent meer mense die webwerf besoek as in Februarie, en meer mense as ooit te vore het vir ’n Bybelstudie gevra.

Toe die pandemie begin, het al hoe meer mense jw.org besoek. In Februarie was daar omtrent tweemiljoen besoekers per dag, wat normaal is vir die webwerf. In Maart het hierdie getal tot meer as driemiljoen besoekers per dag gestyg. En op dae waar daar spesiale nuusflitse oor die koronavirus vrygestel is, was daar meer as vier en ’n halfmiljoen besoekers. Op 7 April, die dag van die Gedenkmaal vir 2020, was daar meer as sewemiljoen besoekers. Die meeste van hierdie besoekers het die spesiale oggendaanbiddingsprogram en die Gedenkmaaltoespraak gekyk.

Besoeke: Die aantal besoekers aan jw.org het baie toegeneem gedurende die pandemie met ’n hoogtepunt van meer as sewemiljoen op die dag van die Gedenkmaal

Broer Clive Martin wat toesig hou oor die MEPS-programmeringsafdeling by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, verduidelik: “Gedurende hierdie tyd van die jaar besoek baie mense jw.org om uit te vind waar en wanneer hulle die Gedenkmaal kan bywoon. Omdat baie belangstellendes nie hierdie jaar saam met plaaslike gemeentes bymekaar kan kom nie, het ons die spesiale toespraak en die Gedenkmaaltoespraak vir 2020 in meer as 500 tale op die webwerf beskikbaar gemaak. Miljoene mense het hierdie programme gekyk of afgelaai. Die hoë aantal besoekers aan die webwerf gedurende hierdie wêreldwye krisis wys hoe belangrik jw.org is om geestelike leiding en vertroosting aan nie net Jehovah se Getuies nie, maar ook aan baie ander in die gemeenskap te voorsien.”

Aantal kere afgelaai: Die aantal kere wat die spesiale toespraak (oranje) en die Gedenkmaaltoespraak (blou) afgelaai is

Dit verbaas ons nie dat baie besoekers aan die webwerf na inligting soek oor gesondheid en hoe om siektes te voorkom nie. Dit sluit onderwerpe in wat te doen het met stres en angstigheid. Baie mense besoek ook die webwerf omdat hulle wil uitvind wat die Bybel sê oor die teken van die laaste dae en oor die vier perderuiters in Openbaring hoofstuk 6.

Nog ’n interessante feit is dat die versoeke vir ’n Bybelstudie aanlyn toegeneem het. Gewoonlik is daar sowat 250 versoeke per dag. Gedurende Maart was daar elke dag omtrent 350 versoeke vir ’n Bybelstudie, wat amper 11 000 versoeke vir die maand is. Gedurende die dag van die Gedenkmaal en die dag daarna het meer as 1 000 mense vir ’n Bybelstudie op jw.org gevra.

Jesus het gesê dat mense wat besef dat hulle God nodig het, gelukkig sou wees (Matteus 5:3). Ons is bly dat so baie mense vertroosting en hulp by Jehovah en sy organisasie soek gedurende hierdie moeilike tye. – 2 Korintiërs 1:3, 4.