Spring na inhoud

Links bo: ’n Lektuurtrollie in Sherbrooke, Kanada. Links onder: ’n Foto van die algehele sonsverduistering op 8 April 2024 in Quebec, Kanada. Regs: ’n Kaart van Noord-Amerika wat wys waar die sonsverduistering gesien kon word

16 MEI 2024
WÊRELDNUUS

Getuies in Noord-Amerika deel die Bybel se boodskap gedurende sonsverduistering

Getuies in Noord-Amerika deel die Bybel se boodskap gedurende sonsverduistering

Op 8 April 2024 was ’n algehele sonsverduistering sigbaar oor dele van Noord-Amerika. Miljoene mense het gekom om na hierdie natuurverskynsel te kyk, en party het selfs lang afstande gereis. ’n Spesiale predikingskampanje is in meer as 24 stede gereël waar die sonsverduistering gesien kon word. Jehovah se Getuies van Kanada, Mexiko en die Verenigde State het aan hierdie kampanje deelgeneem deur lektuurtrollies te gebruik wat Bybelpublikasies in omtrent 15 tale gehad het.

In Carbondale, Illinois, VSA, het twee universiteitstudente na een van ons lektuurtrollies toe gekom. Een van ons susters het ’n gesprek met hulle begin deur die vraag op die trollie “Is lewe geskep?” te gebruik. Soos wat die gesprek aangegaan het, het een van die jong mans gevra: “Hoekom laat God toe dat ons swaarkry as hy bestaan en vir ons lief is?” Die suster het vir hulle gewys hoe om jw.org te gebruik om die antwoord te kry. Albei studente is veral beïndruk met een van ons video’s wat hierdie vraag beantwoord het. Die mans het gesê dat hulle meer wil leer en dit wat hulle geleer het, met hulle vriende wil deel.

Broers en susters in Kanada en die Verenigde State wat deelgeneem het aan die predikingskampanje op die dag van die sonsverduistering

In Sherbrooke, Quebec, Kanada, was ’n jong man wat Pandjabi praat, beïndruk toe ’n suster by ’n trollie hom in sy taal gegroet het. Hierdie eenvoudige woorde het tot ’n goeie gesprek gelei, en die suster kon vir hom wys hoe ’n Bybelstudie werk deur die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure te gebruik. Die man was verbaas om uit te vind dat hy ’n persoonlike Bybelstudie kon hê op ’n tyd en plek wat hom sou pas, selfs deur middel van videoverbinding. Die suster het gereël dat een van ons broers die Bybel met hom begin studeer.

Een suster het ’n gesprek met ’n vrou in Evansville, Indiana, VSA, begin. Die vrou het gesê dat sy soontoe getrek het om na haar ma om te sien wat nie gesond is nie. Ons suster het verduidelik dat sy ook haar ma versorg en dat sy verstaan watter uitdagings daar is om iemand te versorg. Die suster het toe die vertroostende woorde in Jesaja 33:24 en Openbaring 21:4 gelees. Die vrou was baie aangemoedig deur die Bybel se beloftes en het gevra dat die suster die tekste weer moet lees. Dit het tot ’n goeie gesprek gelei, en hulle het gereël om hulle gesprek oor die Bybel voort te sit.

Ons is bly dat ons broers en susters regoor Noord-Amerika hierdie unieke geleentheid kon gebruik om ander te leer oor ons “Groot Skepper” en sy wonderlike beloftes. – Prediker 12:1, 2.