Spring na inhoud

30 APRIL 2020
WÊRELDNUUS

Internasionale broederskap vertroos dié wat deur dodelike pandemie geraak is

Internasionale broederskap vertroos dié wat deur dodelike pandemie geraak is

Al doen Jehovah se volk hulle bes om hulleself en ander teen die koronavirus te beskerm, het party van ons broers en susters as gevolg van hierdie virus gesterf (Prediker 9:11). Ongelukkig het daar alreeds 872 van ons broers en susters wêreldwyd gesterf omdat hulle die COVID-19-virus gekry het. Ons mede-aanbidders het dadelik ondersteuning en vertroosting gegee aan dié wat treur (1 Korintiërs 12:26). Aan die einde van die dag vertrou die broederskap op Jehovah wat altyd sy belofte in Filippense 4:7 hou om ons “die vrede van God” te gee.

Broer en suster Unnützer

Hannchen Unnützer is ’n spesiale pionier in Bolzano, Noord-Italië, wat die ondersteuning van Jehovah se organisasie ondervind. Ongelukkig het haar man, broer Manfred Unnützer, op 28 Maart 2020 as gevolg van die koronavirus gesterf. Broer Unnützer was amper 58 jaar lank in spesiale voltydse diens, en sy vrou het amper 54 jaar saam met hom gedien. Hulle het 25 jaar lank kringwerk gedoen. Omtrent 1 000 broers en susters van verskillende lande het na die begrafnistoespraak gekyk deur middel van videoverbinding.

Suster Unnützer sê: “Ek waardeer die broederskap baie. Hulle het my nooit alleen gelos nie, nie eers vir ’n uur nie. Ek het ’n oorvloed liefde gevoel! Hulle het emosioneel, geestelik en fisies na my gekyk. Ek is baie lief vir al my broers.”

Nog ’n paartjie wat ondersteun word in hulle tyd van hartseer, is Maria Jose Moncada en haar man, Darwin. Hulle dien in die Quechua-veld in die berge van Ecuador. Ongelukkig het suster Moncada se ouers ses dae uitmekaar gesterf as gevolg van die siekte. Haar ma was suster Fabiola Santana Jordan, 56, wat as ’n gewone pionier gedien het en haar pa was broer Ricardo Jordan, 60, wat as ’n bedieningskneg gedien het in die Praderas-gemeente in Guayaquil. Suster Moncada se twee broers het ook siek geword van die COVID-19-virus, maar hulle het weer herstel.

Broer en suster Moncada herdenk die Here se Aandmaal

Suster Moncada was verskriklik hartseer en wou die reis van vier ure aanpak om saam met haar familie te wees om hulle emosioneel te ondersteun en hulle te help met die begrafnisreëlings. Maar hulle het gebid en besluit dat dit nie wys sou wees om na Guayaquil te gaan nie. Hulle het eerder deur middel van videoverbinding met hulle familie gekommunikeer. Suster Moncada verduidelik: “As ons na ons familie toe gegaan het, sou ons ons eie gesondheid en dié van ander in gevaar gestel het.”

’n Mens kan verstaan dat suster Moncada baie ontsteld en bekommerd was, maar sy en haar man het aangehou met hulle geestelike roetine en het nie opgehou om tot Jehovah te bid en hom te vra vir sy leiding nie. Die Moncadas het aangehou om voor te berei vir die Herdenking van Jesus se dood deur Bybelstudente te nooi en die Bybelleesgedeelte oor Jesus se laaste dae op aarde te lees. Hulle het ook deelgeneem aan die bediening deur briewe te skryf en hulle gemeentelike vergaderinge bygewoon deur middel van videoverbinding. Nege van suster Moncada se familielede, wat nie Getuies is nie, het haar uitnodiging aanvaar om in te skakel by die Gedenkmaal in Spaans.

Suster Moncada sê: “Ons was baie aangemoedig om te sien hoe Bybelstudente moeite gemaak het om die Gedenkmaaltoespraak elektronies te kyk, iets wat nie vir hulle maklik is nie. Dit was ook lekker om te sien dat my familielede ingeskakel het, al woon hulle in ander lande.”

Suster Moncada sê verder: “Hierdie ondervinding wys vir ons dat ongeag hoe moeilik ons situasie is, die beste manier om pyn te oorkom, is deur bedrywig te bly in ons diens aan Jehovah en om vir Jehovah iets te gee om te seën.”

Ons internasionale broederskap treur saam met dié wat geliefdes aan die dood verloor het gedurende hierdie pandemie. En ons sal aanhou bid vir almal wat treur. Ons sien uit na die toekoms wanneer Jehovah ’n einde sal maak aan die oorsake van pyn soos pessiektes en al sy getroue knegte wat gesterf het, weer sal laat lewe. – 1 Korintiërs 15:21, 22..