Spring na inhoud

11 OKTOBER 2019
WÊRELDNUUS

JW Broadcasting bestaan nou vyf jaar

JW Broadcasting bestaan nou vyf jaar

Oor die afgelope vyf jaar het die wêreldwye broederskap ’n maandelikse geestelike program op JW Broadcasting geniet. Terwyl ons uitsien na die programme vir die 2020-diensjaar en daarna, kom ons kyk na ’n paar ongelooflike dinge wat bereik is vandat die eerste program in Oktober 2014 beskikbaar gemaak is.

Vertaal in 185 tale. Eers was die maandelikse Broadcasting-program net in Engels beskikbaar. Toe, in Mei 2015, het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat die program in meer as 40 tale vertaal kan word. Nou, net vier jaar later, word die program gemiddeld in 185 tale vertaal.

Inhoud van regoor die wêreld. Omdat die Broadcasting-program ontwerp is vir broers wêreldwyd, word al hoe meer video’s deur spanne regoor die wêreld gemaak. Die Broadcasting-programme sluit dikwels video’s in van gemeentes in afgesonderde gebiede, soos Etiopië, Mongolië, Saipan, Tuvalu, Uganda en Ysland. JW Broadcasting is al in 230 lande gekyk, insluitende afgesonderde gebiede soos die Suidpoolgebied van Heard-eiland en McDonald-eiland, waar daar nie permanente inwoners bly nie. Gedurende die eerste maand van ’n nuwe program word dit gemiddeld 8,6 miljoen keer gekyk of afgelaai.

Groot verskeidenheid. Meer as 60 uur se inhoud is vervaardig, soos toesprake, onderhoude, ondervindinge, nuus en dramatiserings. Vandat die eerste Broadcasting-liedjie, Die beste lewe ooit, vrygestel is, het musiekvideo’s ’n gereelde deel geword van die maandelikse Broadcasting-program. Hierdie liedjies word in 368 tale vertaal.

Aanbieders. Aan die begin het net lede van die Bestuursliggaam elke program aangebied. Later het helpers van die komitees van die Bestuursliggaam die program saam met lede van die Bestuursliggaam aangebied en soms het hulle dit self aangebied. Altesaam is 29 verskillende broers al gebruik om saam of op hulle eie die maandelikse program aan te bied.

Woorde van waardering. ’n Broer van die Verenigde State wat ’n beroerte gehad het en nog steeds moet lewe met die gevolge daarvan, waardeer veral die Broadcasting-liedjies. Hy sê: “Die mooi musiek wat geloof in Jehovah en sy Woord opbou, het my ’n beter uitkyk op die lewe gegee en my regtig gehelp om hierdie moeilike tyd in my lewe te hanteer. Dit het my verstom hoeveel hierdie musiek my gehelp het om aan my Christelike eienskappe te werk. Baie dankie vir hierdie voorsiening!”

Nadat ’n gesin in die Verenigde State, wat hulle jong seun aan kanker verloor het, die program van November 2016 gekyk het, het hulle geskryf: “Die trane het gerol terwyl ons die musiekvideo Net om die draai gekyk het. Dit het vir ons gevoel asof ons daardie ouers in die paradys was. Wanneer ek dink dat ek nie meer die emosionele pyn kan hanteer nie, wys Jehovah vir ons dat hy verstaan en dat hy ons wil help om hierdeur te kom. Hierdie video voel regtig soos Jehovah se antwoord op baie van ons gebede.”

’n Paartjie van Oekraïne het gesê hoe baie hulle die maandelikse Broadcasting-program waardeer. Hulle sê: “As gevolg van JW Broadcasting het die lede van die Bestuursliggaam nou lede van ons gesin geword!”

Ons sê dankie vir Jehovah vir hierdie voorsiening op die regte tyd wat aanhou om sy volk wêreldwyd te verenig. – 1 Petrus 2:17.