Spring na inhoud

Van links na regs: Verkondigers in Duitsland, Mexiko en Suid-Afrika

14 SEPTEMBER 2022
WÊRELDNUUS

Jehovah se Getuies begin weer met die huis-tot-huis-bediening

Jehovah se Getuies begin weer met die huis-tot-huis-bediening

Op 1 September 2022 was Jehovah se Getuies regoor die wêreld opgewonde om weer deel te neem aan die werk waarvoor hulle bekend is – hulle huis-tot-huis-bediening. ’n Spesiale kampanje om Bybelstudies gedurende die maand aan te bied, dra by tot die opgewondenheid. Vir party van ons broers en susters het dit beteken dat hulle weer aan ’n bekende en ’n geliefde vorm van die bediening kan deelneem. Vir ander was dit die eerste keer dat hulle met hulle bure oor die Bybel se boodskap kon praat. Hier volg ’n paar ondervindinge van regoor die wêreld wat wys hoe opwindend die begin van die 2023-diensjaar was.

Duitsland

Op 2 September 2022 het Nicole en Tina, twee susters in Petershagen in Noord-Ryn-Wesfale, in ’n woonstelblok gepreek, maar hulle het niemand by die huis gekry nie. Terwyl hulle weggestap het, het hulle gehoor hoe ’n jong vrou na hulle roep. Die vrou het gesê dat sy nie na die deur toe kon kom toe die susters geklop het nie en het hulle gevra om terug te kom om die Bybel met haar te bespreek. Toe die susters by die vrou se woonstel ingaan, het hulle ’n kopie van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel op die tafel gesien wat gelyk het asof dit baie gebruik is. Die vrou het verduidelik dat sy dit drie jaar gelede gekry het toe sy in Italië gebly het. Sy het kontak met Jehovah se Getuies verloor toe sy gedurende die pandemie Duitsland toe getrek het. Die susters en die vrou het hulle kontakinligting vir mekaar gegee, en die susters het die vrou na die vergaderinge genooi. Twee dae later het die vrou en haar twee kinders ’n vergadering bygewoon. Reëlings is gemaak om die Bybel saam met die vrou te studeer.

Guatemala

Manuel en Karol Gastelum, wat as spesiale pioniers in die Mam-veld dien, het ’n vriendelike vrou ontmoet wat hulle by haar huis ingenooi het. Die vrou het nie geweet dat God ’n naam het nie, so toe bespreek hulle les 04 in die boek Geniet die lewe vir ewig! met die titel “Wie is God?” Toe hulle Jesaja 42:8 lees, was die vrou verbaas om God se naam, Jehovah, in haar kopie van die Bybel te sien.

Die vrou het begin huil en het gesê dat sy nou besef dat dit nie genoeg is om net ’n Bybel te hê nie. Sy moes leer wat die Bybel sê sodat sy gehoorsaam aan God se gebooie kan wees. Nadat hulle die les klaargemaak het, was die vrou baie dankbaar vir dit wat sy geleer het. Sy het gesê dat sy die inligting met haar man sou deel. Die Gastelum-paartjie het reëlings gemaak om met die Bybelbesprekings voort te gaan.

Japan

Terwyl broer en suster Nukamori aan die bediening in Jokohama deelgeneem het, het hulle ’n huis met ’n interkom besoek. ’n Vrou het hulle oor die interkom gegroet. Hulle het hulleself aan die huisbewoner voorgestel en genoem dat hulle Jehovah se Getuies is. Die huisbewoner het die paartjie gevra om by die deur te wag. Ná ’n rukkie het die vrou die deur oopgemaak en gesê: “Ek het gewag vir Jehovah se Getuies om my te besoek.”

Die vrou het verduidelik dat sy die Bybel saam met die Getuies in Nagasaki gestudeer het. Sy het gedurende die pandemie Jokohama toe getrek, maar aangehou om deur middel van Zoom te studeer. Vroeër die week het haar studiehouer vir haar gesê: “Daar sal ’n kampanje in September wees. Een van Jehovah se Getuies sal jou beslis besoek. Jy moet daardie persoon vra om die Bybel in persoon met jou te studeer.” Die huisbewoner was aangenaam verras toe sy so gou besoek is. Die vrou het gesê dat sy die vergaderinge wil bywoon en reëlings gemaak vir haar volgende Bybelstudie.

Verkondigers in Japan neem deel aan die huis-tot-huis-bediening

Mexiko

Nadat ’n paartjie vir ’n vrou ’n Bybelstudie aangebied het, het sy gesê dat sy ’n hele paar jaar gelede saam met Jehovah se Getuies gestudeer het en selfs gemeentelike vergaderinge bygewoon het. Sy het kontak met die Getuies verloor en was te skaam om weer na hulle te soek omdat sy nie volgens Bybelbeginsels gelewe het nie. Nadat sy dit gesê het, het sy begin huil. Die paartjie het die woorde in Psalm 10:17 vir haar gelees en het verduidelik dat Jehovah nie van haar vergeet het nie. Hulle het haar ook geprys omdat sy volgens Jehovah se standaarde wou lewe. Sy het ingestem om die Bybel te studeer en het gesê dat haar 16-jarige seun ook meer oor die Bybel wou leer.

Toe die paartjie die volgende dag teruggegaan het, het die vrou en haar seun vir hulle gewag. Nadat hulle les 01 in die brosjure Geniet die lewe vir ewig! gestudeer het, het die paartjie hulle genooi om die vergadering wat daardie naweek gehou sou word, by te woon, en hulle het toe. Beide die vrou en haar seun is van plan om aan te hou om te studeer en die vergaderinge by te woon.

Puerto Rico

’n Paartjie in Puerto Rico bied vir ’n vrou die brosjure Geniet die lewe vir ewig! aan

Ramon het gebid om iemand te kry vir wie hy van die goeie nuus kon vertel gedurende sy eerste dag terug in die huis-tot-huis-bediening. By die eerste huis wat hy besoek het, het ’n vrou die deur op ’n skrefie oopgemaak en uitgeloer. Ramon het kortliks gegroet en homself voorgestel. Voordat hy met sy aanbieding kon begin, het die vrou gesê: “Jy weet nie hoe lank ek al vir hierdie oomblik gewag het nie. Ek het gebid dat julle moet kom en my by die huis moet besoek.”

Die vrou het verduidelik dat sy ’n paar jaar vroeër deur die Getuies gekontak is en ’n gemeentelike vergadering bygewoon het. Maar sy het getrek en het alle kontak met die Getuies verloor. Ramon het verduidelik dat ons opgehou het met die huis-tot-huis-bediening gedurende die pandemie. Ramon het toe Psalm 37:29 vir haar gelees en die reëling vir ’n Bybelstudie aan haar verduidelik. Die vrou het gretig ’n Bybelstudie aanvaar. Ramon het reëlings gemaak vir ’n suster om haar te besoek.

Ná hierdie ondervinding het Ramon gesê: “Ek weet dat Jehovah en die engele ons lei na dié wat wil luister.”

Verenigde State

Toe Katelyn Thompson ’n huis in Kentucky besoek het, het sy gesien dat daar Bybeltekste op die posbus geskryf is en ’n klein teken in die erf is wat sê: “Jesus is lief vir jou.” Toe Katelyn aan die deur klop, het ’n vrou oopgemaak. Katelyn het haarself voorgestel en het verduidelik dat Jehovah se Getuies nie hulle bure in persoon kon besoek nie as gevolg van die COVID-19-pandemie. Sy het ook genoem dat die Getuies gedurende die pandemie briewe geskryf het en telefoonoproepe gemaak het om ander aan te moedig en te vertroos. Katelyn het die vrou gevra hoe dit met haar en haar familie gaan. Die vrou het verduidelik dat haar pa gedurende die pandemie gesterf het. Sy het gesê: “Ek het briewe van julle gekry, en ek het gevoel asof God my presies gegee het wat ek nodig gehad het!” Katelyn het gesê hoe jammer sy is en les 02 in die brosjure Geniet die lewe vir ewig! met die vrou bespreek. Hulle het die tekste in die les gelees en op die opstandingshoop vir die toekoms gefokus. Die vrou het begin huil. Sy het verduidelik dat dit op daardie dag presies ’n jaar was vandat haar pa gesterf het. Die vrou het vir Katelyn haar kontakinligting gegee en ingestem dat Katelyn haar weer kon besoek. Later het Katelyn ’n teksboodskap van die vrou gekry wat gesê het: “Baie dankie – Ek het regtig vandag die aanmoediging nodig gehad!”

Jehovah het beslis ons huis-tot-huis-bediening geseën sowel as die kampanje om Bybelstudies te begin. Ons sien uit na die resultate! – Johannes 4:35.

 

Bahamas

Kameroen

Panama

Filippyne

Suid-Korea

Verenigde State