26 MAART 2020
WÊRELDNUUS
Jehovah se Getuies regoor die wêreld gebruik nuwe maniere om gedurende die pandemie te preek
Die nuwe koronavirus (COVID-19) wat ’n pandemie geword het, het die lewens van miljoene Getuies van Jehovah verander. Hulle doen alles wat hulle kan om die instruksies van plaaslike owerhede te gehoorsaam, en terselfdertyd hou hulle aan om Jehovah te aanbid. In plekke wat direk geraak is deur die virus, gebruik ons broers en susters kreatiewe metodes om aan te hou met hulle bediening.
’n Broer in Pisa, Italië, vertel: “Ons het baie sukses in die bediening! Omdat baie mense by die huis is, het ek en my vrou deur ons kontaklys op ons foon gegaan en video-oproepe gereël. Ons het so baie Bybelstudies en herbesoeke, nuwes en ander met wie ons al voorheen gepraat het. Dit maak dit vir ons moontlik om ure lank velddiens te doen met positiewe resultate.”
In Suid-Korea het die pandemie die verkondigers beweeg om meer gebruik te maak van ons webwerf jw.org en die JW Library-app. Byvoorbeeld, een broer het onverwags ’n boodskap gekry van ’n Bybelstudent wat drie jaar gelede sy studie gestop het. Die Bybelstudent het gesê dat die gesondheidskrisis hom laat dink het aan die teken van die laaste dae. Die broer kon die “Share Link”-funksie op die JW Library-app gebruik om inligting oor die laaste dae aan die Bybelstudent te stuur deur middel van ’n teksboodskap. Die broer verduidelik dat dit “aanmoedigend is om te sien dat hierdie bewyse van die teken van die laaste dae veroorsaak het dat baie mense besef dat hulle God nodig het”.
Die baie ondervindinge van takkantore regoor die wêreld wys dat die bediening belangrik is vir ons broers en susters. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle “praktiese wysheid” gebruik om aan te hou om die goeie nuus te verkondig. – Miga 6:9.
’n Kringopsiener hou ’n velddiensvergadering in Puerto Rico
Pioniersusters in Duitsland skryf briewe terwyl hulle in ’n video-oproep is met mekaar
’n Bybelstudie word in Suid-Korea gehou
’n Paartjie in Frankryk neem deel aan telefoongetuieniswerk
’n Suster en haar seuntjie skryf briewe in Hawaii