15 APRIL 2020
WÊRELDNUUS
Jong Getuies vind nuwe maniere om te preek gedurende pandemie
Ons jongmense regoor die wêreld is vasbeslote om aan te hou met ’n goeie geestelike roetine deur maniere te vind om te preek en om ander Getuies aan te moedig gedurende die koronavirus-pandemie.
In Nieu-Seeland sit mense speelgoed en prentjies in hulle vensters vir kinders om te sien terwyl hulle in die buurt verbystap. Jongmense in verskillende gemeentes sien dit as ’n geleentheid om te preek en maak prente van Caleb en Sophia wat sê: “Kyk na video’s van ons op jw.org.”
Emilia, ’n nege-jarige in Switserland met ’n swak immuunstelsel, skryf aan mense in ’n verpleeginrigting waar hulle nie meer besoekers kan kry nie. Emilia het ’n prentjie van Noag en die ark geteken en dit saam met die briewe gestuur. Sy het verduidelik dat Noag en sy gesin ook afgesonder was, maar hulle afsondering het hulle veilig gehou. Sy het mense aangemoedig om “binne te bly soos Noag”. Wanneer die pandemie verby is, wil Emilia die mense in die verpleeginrigting gaan besoek.
Party mense het positief gereageer op Emilia se briewe, en sy kon vir hulle terugskryf. ’n Plaaslike joernalis het van Emilia gehoor en oor haar in ’n nuusartikel geskryf.
Peyton en Ella Kempf, twee jong susters wat in Ontario, Kanada, woon, bly in kontak met mense in die gemeente gedurende die pandemie. Hulle pa, Jared, verduidelik: “Gedurende gesinsaanbidding het ons kinders gehelp om ’n lys te maak van almal met wie ons in kontak wil bly.” Hulle ma, Jessica, voeg by: “Ons wil ons dogters leer dat dit belangrik is om seker te maak dat ons broers en susters en ons familie en vriende weet dat ons nie van hulle vergeet het nie.”
Nege-jarige Stella en haar ma in Colorado, VSA, het ook besluit om ouer broers en susters in hulle gemeente te kontak. Hulle het ’n lys gemaak en elkeen gebel.
Jonathan en Sean McKampson, twee broers wat 12 en 15 jaar oud is, dien saam met hulle ouers in ’n Chinese gemeente in Arizona. Hulle hou aan om te preek deur elke oggend voor skool briewe te skryf in Chinees. Omdat hulle nog besig is om die taal te leer, vat dit baie tyd en moeite om die briewe te skryf. Maar hulle is vasbeslote om die Bybel se boodskap aan Chineessprekende persone te verkondig.
Ses kinders, tussen die ouderdom van 2 en 15 jaar oud, het gereeld ’n verpleeginrigting in Wes-Michigan saam met hulle ma en ’n pioniersuster besoek. Maar as gevolg van die koronavirus-pandemie het die owerheid besoeke by die verpleeginrigting gestop. Die ouers stuur nou video’s van die kinders wat Koninkryksliedjies sing of wat Bybelverse lees aan die mense in die verpleeginrigting. Een van die werkers by die verpleeginrigting het vir die kinders se pa gesê dat die video’s een van die mense by die verpleeginrigting gekalmeer het. Die persoon het depressief geraak nadat hulle die nuus gekyk het oor koronavirus-sterftes.
Ons weet dat dit Jehovah bly maak omdat hierdie jongmense liefde aan ander wys en hom loof deur nuwe maniere te vind om te preek. – Psalm 148:12, 13.