Spring na inhoud

8 JANUARIE 2021
WÊRELDNUUS

Kampanje oor die Koninkryk in 2020: Broers en susters wêreldwyd aangemoedig deur “onvergeetlike gebeurtenis”

Kampanje oor die Koninkryk in 2020: Broers en susters wêreldwyd aangemoedig deur “onvergeetlike gebeurtenis”

Jehovah se Getuies sal November 2020 as ’n spesiale maand onthou. ’n Dodelike pandemie het die meeste van ons gedwing om in ons huise te bly. Ons het opgehou om gewone velddiensmetodes te gebruik. En tog het Jehovah se volk ’n wêreldwye predikingskampanje suksesvol voltooi om mense oor God se Koninkryk te vertel. Regoor die wêreld het miljoene verkondigers hard gewerk om Die Wagtoring, nr. 2 2020 aan besighede, staatsamptenare, onderwysers, vriende, familielede en die publiek te stuur. Hierdie werk het almal wat bereid was om te luister, aangemoedig. Maar dit het ook diegene wat aan die kampanje deelgeneem het, gelukkig gemaak en aangemoedig.

Hier is ’n paar ondervindinge en kommentare van ons broers en susters regoor die wêreld:

AUSTRALASIË

Suster Lucinda Furkin

Lucinda Furkin, ’n agtien-jarige suster van Australië wat pas gedoop is, het geskryf: “Al het ek ernstige gesondheidsprobleme gedurende die kampanje gehad, het ek gevoel dat Jehovah my baie aanmoedig, my hand vashou en my die krag gegee het om aan te hou.”

’n Pa in Nieu-Seeland het beskryf hoe die kampanje sy gesin gehelp het: “Ons het vier jong dogters wat 7, 9, 11 en 13 jaar oud is. Ons het gevoel dat die wêreldwye kampanje iets is wat ons liefdevolle Vader, Jehovah, ons gevra het om te doen. Dit het ons gesin gehelp om elke dag gedurende die kampanje velddiens te doen.”

BOTSWANA

Kagiso en Lydia Marumo, wat kringwerk doen, het elektroniese kopieë van die tydskrif aan ongelowige familielede gestuur. Hulle het ’n hele paar boodskappe van dankbaarheid gekry. Een van Kagiso se familielede, wat ’n mediese dokter is, het gesê dat die tydskrif net op die regte tyd gekom het. Sy het verduidelik dat party van haar pasiënte vrae oor God en die Bybel gehad het en dat haar eie kinders by spiritisme betrokke was. Die Marumo-paartjie het hierdie familielid gekontak en daardie selfde aand ’n Bybelstudie met haar begin. Hulle studeer nou die Bybel twee keer ’n week met haar.

Broer Kagiso Marumo saam met sy vrou, Lydia

KANADA

Suster Soroya Thompson

Soroya Thompson, ’n pioniersuster in Ontario, het geskryf: “Die kampanje het my gehelp om meer te fokus op wat die belangrikste is en op hoeveel werk daar nog oor is om te doen. Dit het my ook herinner aan Jehovah se liefde, en dit bewys dat hy regtig nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie. Omdat ek dit in gedagte gehou het, het dit gemaak dat ek selfs harder gedurende die kampanje wou werk.”

’n Suster van Brits-Columbië het gesê: “Gedurende hierdie stresvolle tyd het ek besluit om hulppionierdiens te doen om nie so depressief te voel nie. Dit het my gehelp om beter te voel, en dit het my gesin ook gehelp.”

Die takkantoor in Kanada het laat weet dat die kampanje gesinne gehelp het om nader aan mekaar te kom. Dit het jong kinders ook laat voel dat hulle in die bediening kon help, want hulle kon self eenvoudige briewe skryf of die gesin help om adresse te soek en op koeverte te skryf en om seëls op te plak.

FINLAND

Broer en suster Tuomisto, wat kringwerk doen, het gesê: “November is die donkerste tyd van die jaar hier in die noorde. So die broers en susters, veral die pioniers, was dankbaar vir die kampanje wat hulle gehelp het om positief te bly.”

Broer Timo Tuomisto saam met sy vrou, Eeva

Nadat ’n paartjie die tydskrif na iemand gestuur het wat hulle ken, het hulle ’n brief gekry waarin die persoon dankie gesê het. Die brief het onder andere gesê: “Vandag [het ek gelees in die Bybelboek] Jakobus. Dit sê dat geloof sonder werke dood is. Jehovah se Getuies het nog altyd met mense in persoon gepraat om vir hulle te leer en te verduidelik wat die Bybel sê. Hulle doen werke wat mense se geloof versterk.”

GRIEKELAND

Die takkantoor in Griekeland het die volgende gesê: “Die pandemie en die inperking as gevolg daarvan het baie mense uitgeput. Die kampanje het hulle die aanmoediging gegee wat hulle nodig gehad het. Baie het gesê dat die kampanje ’n aangename verandering gedurende hierdie moeilike tyd was!”

Suster Suzie Kontargiri

Suster Suzie Kontargiri het besluit om hulppionierdiens te doen al het sy gesondheidsprobleme en al is haar man nie een van Jehovah se Getuies nie. Sy het gesê: “Hierdie kampanje het my negatiewe gedagtes laat weggaan. Ek het soggens vrolik wakker geword, my huistakies gedoen, gekook, na my man omgesien en dan velddiens begin doen. My ongelowige man het dikwels gevra: ‘Gaan jy nie vandag velddiens doen nie?’, want hy het daaraan gewoond geraak om te sien hoe ek gelukkig is wanneer ek saam met die susters werk.”

JAPAN

Suster Tamaki Hirota het briewe aan staatsamptenare geskryf. Sy het gesê: “Jehovah was die eerste een wat deur middel van briewe aan ander getuig het. Hy het 66 briewe aan die mensdom geskryf, wat mense oor en oor regdeur hulle lang geskiedenis gelees het om nader aan Hom te kom. Jehovah weet dat hierdie metode baie goed werk. Hierdie kampanje was ’n onvergeetlike gebeurtenis.”

Suster Tamaki Hirota

SRI LANKA

Suster Meharaja Vijaya en Imayanathan Amutha het per ongeluk ’n brief aan dieselfde adres geskryf. Die ontvanger het die eerste brief weggegooi sonder om dit eers oop te maak. Toe sien hy die tweede brief. Hy het geredeneer dat die boodskap in die briewe baie belangrik moet wees vir dit om twee keer gestuur te word. Hy het die tydskrif gelees, die suster gebel wat die tweede brief gestuur het en ’n Bybelstudie aanvaar.

Van links na regs: Suster Meharaja Vijaya en Imayanathan Amutha

’n Plaaslike amptenaar het die takkantoor in Sri Lanka gebel nadat sy die tydskrif ontvang het. Sy het gesê dat sy nog nooit een van Jehovah se Getuies ontmoet het nie al was sy ’n Christen. Nadat sy die tydskrif en ons webwerf geprys het, het sy gevra: “Hoe kan ek een van Jehovah se Getuies word?” Die broers het dadelik gereël dat iemand haar weer kontak.

VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

’n Dertien-jarige verkondiger wat na ’n skool gaan waar politiek dikwels bespreek word, het verduidelik hoe die November-kampanje hom gehelp het: “Dit het my meer vertroue gegee om vir die onderwysers te vertel hoekom ek neutraal is. Dit het my geloof baie sterker gemaak.”

Suster Margit Haring

Suster Margit Haring het ook so gevoel. Sy het geskryf: “Ek het meer moed en ywer gehad. Aan die begin het dit my senuweeagtig gemaak as ek net daaraan dink om met die eienaars van besighede en staatsamptenare te praat. Dit is goeie oefening vir die toekoms om te leer om my geloof met sagmoedigheid te verdedig.”

’n Ouerman het gesê: “Dit het my veral geraak toe ek hoor hoeveel verkondigers pionier al het hulle ernstige gesondheidsprobleme. Hulle kon gedink het dat hulle nie die krag het om te pionier nie. Maar hulle het eerder besluit om deel te neem aan die kampanje. Die vreugde en waardering wat hulle vir Jehovah sowel as hulle broers en susters gewys het, het almal soms laat huil.”

Daar is nog baie ander ondervindinge en kommentare regoor die wêreld – te veel om hier te noem. Dit was regtig vreugdevol om miljoene mense met die Koninkryksboodskap te bereik. – Johannes 15:11.