3 DESEMBER 2020
WÊRELDNUUS
Koninkryk-kampanje vir 2020: Amptenare reageer met waardering
Jehovah se Getuies regoor die wêreld het in November die publieke uitgawe van Die Wagtoring, nr. 2 2020 vir besighede, familielede en belangstellendes gestuur. Iets wat hierdie kampanje uniek gemaak het, was dat hierdie tydskrif na baie regeringsamptenare gestuur is. Takkantore het al klaar heelwat gunstige reaksies gekry.
In Sierra Leone het Rex Bhonaphana, die adjunkminister van die Departement van Grond, Behuising en Landsbeplanning, ’n brief vir die broers geskryf om vir hulle dankie te sê dat hulle vir hom die tydskrif gestuur het. Hy het geskryf: “Ek moet sê dat julle tydskrif baie aanmoedigend en leersaam is. Dit is iets wat ek nou elke dag lees.”
In Samoa het die eerste minister ’n brief vir die broers gestuur waarin hy vir hulle dankie gesê het en die waarde van die Onse Vader-gebed erken het. Die staatshoof, Tuimalealiifano Vaaletoa Sualauvi II, het ook gesê dat hy ons Bybelonderrigtingswerk waardeer. Hy het verduidelik dat dit “mense help en hulle oor die Bybel leer sodat hulle hulle lewens kan verander”. Hy het die broers ook geprys omdat hulle as gevolg van die COVID-19-pandemie opgehou het om vergaderinge in die Koninkryksale te hou en om van deur tot deur te preek.
Osvaldo Cartagena García, ’n munisipale sekretaris in Chili, het gesê: “Ek hoop dat julle indrukwekkende kampanje almal wat in gesag in ons land is, sal help en hulle sal motiveer om goeie dinge vir die hele gemeenskap te doen. Dit is veral nou nodig as gevolg van wat in ons land en regoor die wêreld gebeur.”
’n Lid van die Duitse parlement (Deutscher Bundestag) het vir die takkantoor van Sentraal-Europa in Duitsland geskryf: “Ek is bekend met julle godsdiens. Ek erken met respek hoe mense van julle godsdiens moedig vir ander vertel dat hulle Jehovah se Getuies is. . . . Ek weet ook dat julle godsdiens die ergste vervolging onder die Derde Ryk (die Nazi-regering) deurgemaak het.”
Een van Duitsland se Federale Staatsdepartemente het ook die Getuies bedank omdat hulle mense gedurende die COVID-19-pandemie vertroos. Hulle het verduidelik: “Wanneer julle mense vertroos, help julle die mense in ons land om verenig te bly.”
In Colombia het twee lede van die regering albei vir die takkantoor geskryf om dankie te sê vir die tydskrif en gesê dat hulle dit met ander sou deel. ’n Amptenaar van die Departement van Omgewing en Volhoubare Ontwikkeling het ook geskryf: “Baie dankie dat julle Die Wagtoring vir my gestuur het omdat dit ’n lewensreddende boodskap bevat!”
Frank Okyere, Ghana se ambassadeur in Japan, het gesê: “Ek dink dat die tydskrif baie leersaam is omdat dit die oplossings vir baie van die mens se probleme bespreek.”
’n Ambassadeur van Azerbeidjan het ook gesê: “Baie dankie dat julle hierdie spesiale uitgawe van Die Wagtoring met die ambassade gedeel het. Ek het die tydskrif met groot belangstelling gelees.”
Ons stem saam met die woorde van broer Amaro Teixeira, wat toesig hou oor die Openbare Inligtingsafdeling in die takkantoor van Mosambiek: “Hierdie kampanje het alreeds beter resultate gehad as wat ons verwag het. Die Koninkryksboodskap het diegene bereik wat gewoonlik onbereikbaar is.”
Ons is seker dat ons nog woorde van waardering van amptenare en ander sal kry terwyl die Bybel se boodskap aanhou om “almal wat ’n hoë posisie het” te bereik. – 1 Timoteus 2:2.