Spring na inhoud

Die Wagtoring nr. 2 2020, met die titel “Wat is God se Koninkryk?”, word regoor die wêreld gedurende die kampanje in 2023 gebruik

29 NOVEMBER 2023
WÊRELDNUUS

Koninkryksboodskap bereik mense regoor die wêreld gedurende kampanje in September 2023

Koninkryksboodskap bereik mense regoor die wêreld gedurende kampanje in September 2023

In September 2023 het Jehovah se Getuies regoor die wêreld deelgeneem aan ’n spesiale predikingskampanje om mense van God se Koninkryk te vertel. Hulle het Die Wagtoring nr. 2 2020, met die titel “Wat is God se Koninkryk?,” gebruik. a Die volgende ondervindinge wys watter uitwerking hierdie kampanje op mense regoor die wêreld gehad het.

Engeland

Gedurende die kampanje het Mark en sy tienjarige seun, Flynn, van Southport, Engeland, ’n middeljarige vrou by hulle eerste deur ontmoet. Die vrou het opgewonde Die Wagtoring uit Mark se hande gevat en oor die vraag op die voorblad gesê: “Ek kan nie glo dat julle vandag gekom het nie! Ek het nou meer as ooit tevore die antwoord op hierdie vraag nodig.” Sy het met trane in haar oë verduidelik dat haar seun onlangs gesterf het en dat sy vertroosting nodig het. Mark het onmiddellik die Koninkryksbelofte van ’n opstanding met haar gedeel. Sy was diep geraak en wou meer inligting hê. Toe Mark en Flynn teruggaan, het die vrou en haar man opgewonde die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure aanvaar, en ’n Bybelstudie is begin.

Indonesië

Terwyl ’n broer met die naam Frederick in die ry by ’n mediese sentrum was, het hy met ’n man wat saam met sy seun gewag het, begin praat. Later het Frederick die Bybel se belofte dat swak gesondheid en swaarkry binnekort iets van die verlede sal wees, met hom gedeel. Nadat hy die pa gevra het om Jesus se woorde oor God se Koninkryk in Matteus 6:9, 10 te lees, het Frederick hom gevra: “So hoe sal swaarkry tot ’n einde kom?” Die man het die regte antwoord gegee deur te sê: “Deur middel van God en sy Koninkryk.” Die man het toe gevra wat God se Koninkryk is, maar op daardie oomblik is die seun vir sy afspraak geroep en moes hulle gaan. Frederick het gou sy adres en ’n kopie van Die Wagtoring vir die man gegee. Tot Frederick se verbasing was die seun se pa en ma vroeg die volgende oggend by sy voordeur en wou hulle meer oor die voordele van God se Koninkryk weet. Frederick was baie bly om reëlings te maak om die gesprek voort te sit.

Malawi

In Malawi het twee susters vir die hoofman van ’n dorpie Die Wagtoring gegee en verduidelik hoe God se Koninkryk binnekort oor die hele aarde sal regeer. Die hoofman het gevra: “Beteken dit dat ek eendag my koninkryk gaan verloor?” Nadat hulle vir die hoofman gewys het dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mens se probleme is, het hy gesê: “Dit is goeie nuus. Ek is ’n hoofman, maar selfs ek weet dat hoofmanne nooit die dinge sal kan doen wat God se Koninkryk vir mense oral sal kan doen nie.” Die hoofman het toe vir nog vyf kopieë van Die Wagtoring gevra wat hy vir hoofmanne van ander dorpies wou gee. Hy het ook gesê dat hy daarna uitsien om verdere Bybelbesprekings in die toekoms te hê.

Mexiko

Terwyl ’n suster op die bus in Puebla, Mexiko, gery het, het sy ’n ouerige man gevra of sy ’n aanmoedigende boodskap met hom kon deel. Die man het ingestem, so toe lees sy Jesus se woorde oor God se Koninkryk in Matteus 6:9, 10. Die man het gevra: “Wat is God se Koninkryk? Ek het nog nooit voorheen die Bybel gelees of met Jehovah se Getuies gepraat nie.” Ons suster het sy vraag beantwoord deur vir hom Die Wagtoring op haar toestel te wys. Die man het begin om selfs meer vrae te vra, so ons suster het vir hom verduidelik hoe hy die JW Library-app kon gebruik om die antwoorde te kry. Toe hy besef dat hy nie genoeg plek op sy toestel het nie, het hy dinge begin verwyder en gesê: “Om oor God se Koninkryk te leer is belangriker.” Teen die einde van die busrit het hy die hele Wagtoring klaar gelees, die eerste les in die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure bespreek en tot ’n Bybelstudie ingestem. Hy het ons suster herhaaldelik bedank en gesê dat hy graag ons vergaderinge by die Koninkryksaal wil bywoon.

Nieu-Seeland

Terwyl ’n broer in Nieu-Seeland met die naam Ben van huis tot huis gepreek het, het hy vir ’n jong ma verduidelik dat God se Koninkryk binnekort verligting sal bring vir almal wat deur moeilike tye gaan. Sy het gesê: “Dis wonderlik dat jy hier is! Ek het gisteraand gesukkel om te slaap omdat ek so angstig is oor die toekoms.” Trane het oor haar wange gerol terwyl Ben Openbaring 21:4 gelees het en verduidelik het dat die Koninkryk ’n einde aan siekte en die dood sal maak. Sy was bly om Die Wagtoring te aanvaar en het gesê dat sy dit graag wil lees en meer wil leer.

Suid-Soedan

In ’n vlugtelingkamp in Suid-Soedan wou baie mense graag meer oor God se Koninkryk leer. Om die waarheid te sê, in net twee ure het ons broers byna 1 000 publikasies geplaas, insluitende Die Wagtoring. Een van die vlugtelinge het gesê: “Julle het op net die regte tyd gekom. Dit is presies wat ons nodig gehad het!” ’n Ander vlugteling het gesê: “Baie dankie dat julle aan ons dink. Ons weet julle kom van ver af, maar kom asseblief weer.”

Taiwan

Twee susters in Taiwan het ’n man ontmoet wat baie hartseer was oor die onlangse brande in Hawaii. Een van die susters het vir hom ’n prent in Die Wagtoring van die toekomstige Paradys op aarde gewys. Hy het gesê: “Dit sou wonderlik wees as die aarde soos hierdie prentjie kon lyk. In ’n wêreld vol slegte nuus is dit so lekker om hierdie vertroostende boodskap van hoop te hoor.”

Dit was ’n voorreg om deel te neem aan hierdie kampanje en mense te help om te sien dat net God se Koninkryk ware vertroosting en hoop kan gee. – Romeine 15:4.

Hieronder is ’n paar foto’s van ons broers en susters van verskillende lande wat vreugdevol aan die wêreldwye predikingskampanje deelneem.

a Elke keer as Die Wagtoring in hierdie artikel genoem word, verwys dit na Die Wagtoring nr. 2 2020.

 

Burkina Faso

Costa Rica

Etiopië

Georgië

Indonesië

Italië

Kenia

Mexiko

Nieu-Seeland

Panama

Pole

Skotland

Suid-Korea

Taiwan

Togo

Wallis