28 FEBRUARIE 2023
WÊRELDNUUS
Kringbyeenkomste en teokratiese skole begin weer in persoon
In Januarie 2023 het ons vir die eerste keer in byna drie jaar weer begin om kringbyeenkomste wêreldwyd in persoon te hou. Omtrent dieselfde tyd het teokratiese skole in baie lande weer in persoon begin. Dit is duidelik dat Jehovah hierdie spesiale geleenthede seën.
In Villahermosa, in die staat Tabasco, Mexiko, het omtrent 200 verkondigers gehelp om die Byeenkomssaal voor die kringbyeenkoms skoon te maak. Party het amper ses ure gereis om daar te kom. Een suster het gesê: “Dit is ’n lang tyd vandat ons so baie broers en susters bymekaar gesien het. Ons wou nie die geleentheid misloop om te help nie.”
By ’n kringbyeenkoms in Crownsville, Maryland, VSA, het een suster gesê: “Ek loop oor van vreugde. Ek huil al vandat ek hier aangekom het. Ek het alreeds my snesies opgebruik, en die program het nog nie eers begin nie. Ek wil dit vir niks misloop nie.”
Studente in baie takgebiede was baie bly om klasse vir die Skool vir Koninkrykspredikers en die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens in persoon by te woon. Broer Giovanny Cabezas, ’n instrukteur by die skoolfasiliteit in Palm Coast, Florida, VSA, het gesê: “Ek was baie opgewonde om te hoor dat teokratiese onderrigting weer in persoon gaan begin. Dit is ’n wonderlike plek met instrukteurs, studente en vrywilligers wat met hart en siel toegewy is om Jehovah se wil te doen.”
In Januarie 2023 het suster Satoko Nakata saam met haar man die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens bygewoon. Sy het gesê: “Dit was wonderlik om gedurende die pandemie die vergaderinge en pionierskole oor Zoom te hou. Maar dit was moeilik om met ander te praat of om hulle te hoor lag en sing. Om die skool in persoon te kon bywoon, is werklik ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah. As studente het ons gepraat, saam gelag, soms saam gehuil en met vreugde saam gesing. Ek is so dankbaar teenoor Jehovah en die Bestuursliggaam.”
Dit bring Jehovah sonder twyfel groot vreugde om te sien hoe sy volk bymekaarkom om hom te aanbid en deur hom geleer te word. Ons wil ook soos koning Dawid sê: “Ek [sal] u in die groot gemeente dank. Ek sal u onder ’n skare mense loof.” – Psalm 35:18.