Spring na inhoud

Broers en susters maak reg om die baie internasionale afgevaardigdes in Guadeloupe te verwelkom

3 JUNIE 2024
WÊRELDNUUS

“Maak die goeie nuus bekend!”-spesiale byeenkomste vir 2024 begin in Guadeloupe

“Maak die goeie nuus bekend!”-spesiale byeenkomste vir 2024 begin in Guadeloupe

Die eerste “Maak die goeie nuus bekend!” spesiale byeenkoms sal vanaf 7 tot 9 Junie 2024 by die Vélodrome Amédée Détraux in Baie-Mahault, Guadeloupe, gehou word. Altesaam 15 spesiale byeenkomste sal tussen Junie en Oktober 2024 gehou word. a Dit is die eerste keer dat spesiale byeenkomste gehou word sedert die COVID-19-pandemie veroorsaak het dat die spesiale byeenkomste vir 2020 gekanselleer moes word.

Broers en susters van verskillende lande is genooi om hierdie spesiale byeenkomste as afgevaardigdes by te woon. Baie van hierdie byeenkomste sal in verskillende tale gehou word, wat sal bydra tot die internasionale atmosfeer van hierdie groot byeenkomste. Byvoorbeeld, in Guadeloupe sal die byeenkomsprogram gelyktydig in Engels, Frans, Kreool (Guadeloupe) en Spaans gehou word.

Links: ’n Gesin maak kaartjies en plakkate om die afgevaardigdes vir die byeenkoms te verwelkom. Regs: Susters maak sakdoeke met die logo van die spesiale byeenkoms in Guadeloupe daarop

Daar is baie werk wat gedoen moet word om voor te berei vir hierdie internasionale afgevaardigdes. Byvoorbeeld, in Guadeloupe het meer as die helfte van die 8 546 broers en susters wat daar dien, vrywilliglik aangebied om te help met die voorbereidings vir die 1 500 broers en susters wat van 11 lande af kom. Een suster, wat aangebied het om saam met haar man te help, het gesê: “Dit is die beste jaar van my lewe! Ek sal dit altyd onthou. Om soveel tyd te spandeer om met vreugde skouer aan skouer met my broers en susters te werk, gee vir my ’n kykie van hoe die lewe in die nuwe wêreld sal wees. Ek is so trots om deel van Jehovah se organisasie te wees!”

Ons is saam met ons wêreldwye broederskap oortuig dat die komende “Maak die goeie nuus bekend!”-spesiale byeenkomste vir 2024 God se volk meer sal verenig. Dit sal ons hemelse Vader, Jehovah, ook eer en verheerlik. – Filippense 1:27.

a Spesiale byeenkomste sal in die volgende plekke gehou word: Sofia, Bulgarye; Santiago, Chili nr. 1; Santiago, Chili nr. 2; Praag, Tsjeggiese Republiek; Santo Domingo, Dominikaanse Republiek; Soewa, Fidji; Helsinki, Finland; Lyon, Frankryk; Baie-Mahault, Guadeloupe; Boedapest, Hongarye; Reykjavik, Ysland; Asunción, Paraguay; Zürich, Switserland; Philadelphia, Verenigde State en Tampa, Verenigde State.