30 DESEMBER 2019
WÊRELDNUUS
Ná sikloon Idai doen Jehovah se Getuies grootskaalse noodlenigingswerk
Sikloon Idai het in Maart 2019 die suidoostelike kus van Afrika getref. Net daarna het die takkantore in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe vinnig gereël dat 14 Noodlenigingskomitees (DRC’s) voorsien in die behoeftes van die Getuies wat geraak is. In hierdie drie lande is meer as 650 van die 1 434 beskadigde huise van ons broers en susters alreeds herstel of herbou. Van die 29 beskadigde Koninkryksale is 8 herbou en 10 herstel.
Oor die afgelope nege maande het meer as 3 500 broers en susters met die grootskaalse noodlenigingswerk gehelp. Party van hierdie vrywilligers het ver gereis om te help. Hulle het van lande in Afrika gekom, sowel as van Brasilië, Frankryk, Italië en die Verenigde State. Vaardige vrywilligers het plaaslike broers opgelei in dinge soos messel- en houtwerk.
Nadat sikloon Idai die provinsies Manica en Sofala in Mosambiek getref het, is omtrent 70 persent van ons broers se oeste vernietig. Onder die takkantoor se leiding het die DRC in die gebied omtrent 430 ton kos versprei. Die kos wat hulle gegee het, is kos wat die broers gewoonlik eet. Dit het mieliemeel, boontjies, olie, sout en suiker ingesluit. Daar is ook vyf ton saad versprei vir dinge soos tamaties, mielies en rys.
Die takkantoor in Malawi skat dat die noodlenigingswerk teen Februarie 2020 heeltemal klaar sal wees. Mosambiek verwag om teen Januarie 2020 klaar te wees, en Zimbabwe het hulle noodlenigingswerk in September 2019 voltooi. Daar word geskat dat hierdie grootskaalse projek omtrent R57 600 000 sal kos.
Trent Edson, ’n lid van die Takkomitee in Zimbabwe wat in die Noodlenigingsafdeling dien, sê: “Die broers en susters wie se huise herbou is, was ongelooflik bly. Dit was baie mooi om te sien hoe die plaaslike broers en broers wat van ver gekom het, gehelp en aanmoediging gegee het. Baie het gedoen wat hulle ook al kon om te help.”
Ons is saam met die meer as 10 000 broers en susters wat deur hierdie storm in Suidoos-Afrika getref is, dankbaar teenoor Jehovah vir hierdie hartroerende broederlike liefde gedurende “moeilike tye”. – Spreuke 17:17.
Noodlenigingswerkers het die huis van broer Welosi Mbendera en sy vrou, suster Esinala Mbendera, gebou. Hulle is in die Nkolong’onjo-gemeente in Malawi
Broer Nehemiah Tigere en sy vrou, suster Fatima Sengami Tigere, staan voor hulle huis in Zimbabwe wat herbou is
Broer Witness Jabu en broer Augustine Kamadzi, wat as kringopsieners dien, doen ’n herdersbesoek op ’n Getuie-gesin wie se huis beskadig is in Nchalo, Malawi
Broers by die Chimoio-noodlenigingsentrum laai mielie-saad af wat versprei sal word onder broers in Mosambiek
’n Foto van broers net voordat hulle die Shire-rivier met kano’s oorsteek om noodlenigingsvoorraad na hulle broers in Mosambiek te neem
Broers en susters neem noodlenigingsvoorraad wat hulle by die broers in Malawi ontvang het, na die Koninkryksaal in die dorpie Tengani, Mosambiek
Broers en susters by die Koninkryksaal in die dorpie Tengani, Mosambiek, wat die noodlenigingsvoorraad ontvang