Spring na inhoud

31 AUGUSTUS 2020
WÊRELDNUUS

Nuushoogtepunte vir die 2020-diensjaar

Nuushoogtepunte vir die 2020-diensjaar

Gedurende die 2020-diensjaar het Jehovah se Getuies wêreldwyd ongewone uitdagings in hulle diens aan God ondervind. Maar hierdie uitdagings het ook gewys hoe vasbeslote ons broers en susters is om lojaal en verenig te bly.

Die grootste uitdaging het ontstaan as gevolg van die COVID-19-pandemie, wat probleme veroorsaak het soos mens in jare nie gesien het nie.

Jehovah se Getuies het vinnig op die pandemie gereageer. Hulle het nuwe maniere gevind om saam te aanbid, om mekaar aan te moedig en om die goeie nuus te verkondig.

Kom ons kyk na party van die ‘goeie berigte’ van hierdie buitengewone jaar. – Spreuke 15:30.

Bybelvrystellings

Gedurende die diensjaar het ons organisasie die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in sy geheel of gedeeltelik in 36 tale vrygestel. As gevolg van COVID-19-beperkings is baie Bybels elektronies vrygestel gedurende vergaderinge deur middel van video-verbinding. Die Nuwe Wêreld-vertaling is nou in sy geheel of gedeeltelik in 193 tale beskikbaar.

Jongste nuus van die Bestuursliggaam

Vanaf 18 Maart 2020 het lede van die Bestuursliggaam spesiale maandelikse videoprogramme oor die pandemie op jw.org en die JW Library-app voorsien.

In die eerste video het broer Stephen Lett gesê dat al is die pandemie stresvol, voorsien dit oortuigende bewys dat “ons nou in die laaste deel van die laaste dae lewe. Sekerlik die laaste deel van die laaste deel van die laaste dae!”

Broer Lett het gesê al is hierdie tye baie moeilik ‘hoef ons as Jehovah se volk nie bang te wees nie’.

Elke video het aanmoedigende verslae van regoor die wêreld ingesluit. Hierdie verslae wys hoe goed dit is om gehoorsaam te wees aan die leiding van die Bestuursliggaam. In baie gevalle het staatsamptenare ons broers vir hulle vinnige en wyse reaksie op die pandemie geprys.

’n Unieke Gedenkmaal

Vir baie jare het Jehovah se Getuies bymekaargekom vir die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal. Hierdie jaar was dit in baie plekke nie aanbeveel of toegelaat om bymekaar te kom nie. In hierdie gevalle het individue en families hulle eie Gedenkmaalembleme gekry en na die Gedenkmaaltoespraak deur middel van video-verbinding gekyk.

In party gebiede was video-verbinding nie moontlik nie. Dit was die geval vir 11 takkantore in Afrika. Hierdie takkantore het gereël dat die Gedenkmaaltoespraak op televisie- en radiostasies uitgesaai word. Hierdie reëling het dit vir meer as 407 000 verkondigers sowel as ’n onbekende getal belangstellendes moontlik gemaak om na die program te luister.

Vergaderinge deur middel van televisie- en radiostasies

Die Bestuursliggaam het toestemming gegee dat party takkantore die gemeentelike vergaderinge op televisie en radio kan uitsaai op dieselfde manier as wat met die Gedenkmaal gedoen is. Op hierdie manier kon verkondigers in lande met beperkte hulpbronne na hulle weeklikse gemeentelike vergaderinge deur middel van radio luister en op televisie kyk. Sover het altesaam 23 takkantore gebruik gemaak van hierdie reëling, insluitende takkantore in Afrika, Europa, Noord-Amerika en Suid-Amerika.

Noodlenigingskomitees

As gevolg van die COVID-19-pandemie sukkel baie van ons broers en susters om aan hulle basiese behoeftes te voorsien. Meer as 400 Noodlenigingskomitees is wêreldwyd aangestel om te help met gevalle waar verkondigers nie plaaslik basiese benodigdhede kan kry nie. Gedurende die 2020 diensjaar het die Bestuursliggaam toestemming gegee om meer as R30 miljoen aan COVID-19-noodlenigingswerk te spandeer om meer as 330 000 verkondigers te help.

Vooraf opgeneemde streekbyeenkomste

Vir die eerste keer ooit het broers en susters die streekbyeenkoms by hulle huise gekyk. Lede van die Bestuursliggaam en hulle helpers het al die byeenkomsdele aangebied in vooraf opgeneemde video’s. Hierdie video’s is toe in meer as 500 tale vertaal. Die byeenkomsprogram is op jw.org en die JW Library-app beskikbaar gemaak aan verkondigers en belangstellendes sodat hulle dit veilig by hulle huise kon kyk.

Vervolging hou aan

In baie lande moes party van ons broers en susters wat swaarkry as gevolg van die pandemie, ook meer en meer vervolging deurmaak.

Oor die afgelope jaar is honderde Getuies se huise in Rusland onwettig deursoek en is baie van hulle gearresteer. Op die oomblik is daar 42 broers en susters in die tronk in Rusland en nog twee in die Krim. Sedert die uitspraak van die Russiese Hooggeregshof in 2017 is meer as 1 000 huise van ons broers deursoek.

Die grootste hoeveelheid Getuies wat in die tronk is, is in Eritrea, waar daar altesaam 52 in die tronk is. Paulos Eyasu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam is party van die Getuies wat in die tronk is. Hulle is in die tronk vanaf 17 September 1994 omdat hulle weier om militêre diens te doen. Nog 26 broers en susters is al langer as tien jaar in die tronk.

Ons hou aan bid dat al ons broers en susters wat in die tronk is, moedig sal bly. Ons weet dat hulle wys dat hulle getrou is terwyl hulle hierdie moeilike tye deurmaak. – Openbaring 2:10.

Hulle bly getrou

Gedurende die afgelope diensjaar het Getuies wêreldwyd hulle lojaliteit aan Jehovah bewys deur op verskillende maniere aan te hou preek, nuwe maniere te vind om mekaar aan te moedig en heeltemal gehoorsaam te wees aan die leiding van die Bestuursliggaam en die regering.

Alles wat ons broers en susters gedoen het omdat hulle toegewy is aan God, het gewys dat hulle lief is vir die Skepper. En hulle lojaliteit sal hulle help om groter toetse in die toekoms te verduur. – Jakobus 1:2, 3.