Spring na inhoud

8 JULIE 2022
WÊRELDNUUS

Nuwe hoogtepunt in vertaling: 13 Bybels word op een naweek vrygestel

Nuwe hoogtepunt in vertaling: 13 Bybels word op een naweek vrygestel

Gedurende die naweek van 25-26 Junie 2022 het ons organisasie ’n nuwe hoogtepunt in vertaling bereik toe die Nuwe Wêreld-vertaling in 13 verskillende tale vrygestel is. Die meeste Bybelvertalings wat op ’n enkele naweek vrygestel is, was voorheen ses. Hier volg ’n verslag van daardie baie spesiale dag.

Tzeltal

Broer Armando Ochoa van die Takkomitee in Sentraal-Amerika het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Tzeltal vrygestel. Die program is uitgesaai aan ’n gehoor van sowat 1 400 mense. Die Bybel is in digitale en gedrukte formaat vrygestel.

Een van die Tzeltal-vertalers het gesê: “Wanneer ek terugkyk, is dit vir my duidelik dat Jehovah ons baie gehelp het. Ek is verbaas oor wat bereik is. Ons weet dat dit net moontlik was met die hulp van Jehovah se gees.”

Wayuunaiki

Broer Carlos Moreno, ’n verteenwoordiger van die takkantoor in Colombia, het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte (Matteus-Handelinge) in Wayuunaiki vrygestel. Die vooraf opgeneemde program is uitgesaai aan ’n gehoor van omtrent 2 000 mense in Colombia en Venezuela. Die vrystelling is in digitale formaat beskikbaar gemaak. Gedrukte kopieë van die nuwe Bybel sal in die toekoms beskikbaar wees.

Baoulé

Broer Christophe Coulot, ’n lid van die Takkomitee in Côte d’Ivoire, het die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Baoulé vrygestel gedurende ’n vooraf opgeneemde program wat aan ’n gehoor van meer as 12 000 mense uitgesaai is. Dit is in digitale formaat vrygestel. Gedrukte kopieë sal in Oktober 2022 beskikbaar wees. Dit is die eerste keer dat die Nuwe Wêreld-vertaling in ’n plaaslike taal vertaal is in die gebied van die takkantoor in Côte d’Ivoire.

’n Lid van die vertaalspan het gesê wat hulle gemotiveer het terwyl hulle aan hierdie projek gewerk het: “Wanneer ons ook al probleme gehad het, het ons gedink aan die vreugde wat die broers en susters en die mense in die gebied sou hê wanneer hulle die Bybel in hulle eie taal kry. Dit, tesame met Jehovah se ondersteuning, het ons die krag gegee om aan te gaan.”

Wallies

Broer Peter Bell, ’n lid van die Takkomitee in Brittanje, het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Wallies vrygestel tydens ’n program wat gestroom is van ’n Koninkryksaal in Wallis. Daar was sowat 2 057 mense wat by die program ingeskakel het by Koninkryksale regoor Wallis en Argentinië. Digitale kopieë was dadelik beskikbaar. Gedrukte kopieë sal in Desember 2022 beskikbaar wees.

’n Lid van die vertaalspan het gesê: “Ek sal die eerste keer dat ons Jehovah se naam vertaal het, nooit vergeet nie. Dit het my so nederig laat voel om te sien hoe God se naam teruggesit word waar dit behoort.”

Manyawa en Tewe

Broer Marcelo Santos, ’n lid van die Takkomitee in Mosambiek, het Die Bybel – Die boek Matteus in Manyawa en Tewe gedurende twee vooraf opgeneemde programme vrygestel. Die programme was beskikbaar op JW Stream. Dit is ook op televisie- en radiostasies uitgesaai. Die vrystellings was beskikbaar in digitale en oudio-formaat. Gedrukte kopieë sal in September 2022 beskikbaar wees.

Dit is die eerste boek van die Bybel waarvan ons weet, wat in Manyawa vertaal is, en net ’n paar boeke van die Bybel is al in Tewe vertaal. Die mense wat dit lees en daarna luister, sal baie hierby baat vind.

Quechua (Ancash), Quechua (Ayacucho) en Quechua (Cuzco)

Broer Marcelo Moyano, ’n lid van die Takkomitee in Peru, het die digitale weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling in Quechua (Ancash), Quechua (Ayacucho) en Quechua (Cuzco) vrygestel. Dit is die drie hooftale van Quechua wat in Peru gepraat word. Meer as 7 000 mense het na die vooraf opgeneemde program gekyk. Gedrukte kopieë sal in Oktober 2022 beskikbaar wees.

Hoewel hierdie tale baie eenders is, is streeksdialekte van Quechua verskillend genoeg dat dit moeilik is om die Bybel te verstaan as daar nie aparte vertalings is nie. Vertaalspanne van elke dialek het woorde gekies wat maklik verstaan sal word deur lesers wat oorspronklik van elke gebied kom.

Ndebele, Sesotho (Lesotho) en Sesotho (Suid-Afrika)

Broer Kenneth Cook, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die Nuwe Wêreld-vertaling in Ndebele en Sesotho (Suid-Afrika) vrygestel. Hy het ook ’n hersiene weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling in Sesotho (Lesotho) vrygestel. Meer as 28 000 mense het na hierdie vooraf opgeneemde program gekyk. Dit is na sekere Koninkryksale en privaat huise regoor die land gestroom. Kopieë was dadelik beskikbaar in digitale formaat, en die gedrukte kopieë sal in Desember 2022 beskikbaar wees. Dit is die eerste keer dat die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Ndebele en Sesotho (Suid-Afrika) vertaal is.

’n Lid van die vertaalspan het oor die Bybel in Ndebele gesê: “Hierdie vertaling sal ’n ware seëning wees vir die Ndebele-mense in ons gebied omdat dit Jehovah se naam gebruik. Vir die eerste keer sal hulle sy naam kan leer ken omdat hulle dit in hulle eie Bybel sal kan lees.”

Ndebele (Zimbabwe)

Broer Shingirai Mapfumo, ’n lid van die Takkomitee in Zimbabwe, het die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Ndebele (Zimbabwe) in digitale formaat vrygestel. Gedrukte kopieë sal in Julie 2022 beskikbaar wees. Hierdie vooraf opgeneemde program was na Koninkryksale regoor Zimbabwe gestroom. Meer as 8 700 mense het daarna gekyk.

Hoewel ander Bybels in Ndebele (Zimbabwe) beskikbaar is, word Bybelwaarhede duideliker gemaak in hierdie vertaling. Byvoorbeeld, in Johannes 17:3 sê ander Bybels in Ndebele dat Jesus Christus die “Ware God” is. Die Nuwe Wêreld-vertaling wys duidelik wat die verskil is tussen Jehovah God en Jesus Christus. ’n Vertaler het gesê: “Hierdie vertaling gebruik moderne taal wat die leser maklik kan verstaan.”

Ons is bly om te sien dat God se Woord beskikbaar gemaak word aan mense regoor die wêreld wat die waarheid wil leer ken. Dit sal hulle help om in hulle eie taal “verniet van die water van die lewe [te] drink”. – Openbaring 22:17.