31 MAART 2022
WÊRELDNUUS
Oekraïense vlugtelinge deel hulle verhale oor hoe hulle alles moes agterlaat
“Al wat saak maak, is jou verhouding met Jehovah”
’n Telefoonoproep vyfuur in die oggend van ’n gemeentelike ouerman het broer Femi Durodola en sy vrou, Jana, wakker gemaak. Jana vertel: “Die broer het gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie, hou julle reg. Die Russiese weermag kom na Kijif!’ Op daardie oomblik het ek baie senuweeagtig gevoel.”
Die pasgetroude paartjie het aangetrek, die laaste koppie koffie wat hulle in hulle huis sou drink, gemaak en die dagteks vir daardie dag gelees. Dit het gelees: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het” (Jesaja 30:15). Femi het vurig tot Jehovah gebid. Femi, wat van Nigerië is, en Jana, wat in Oekraïne gebore is, het hulle grypsakke gegryp en alles agtergelaat om na Nederland te vlug.
Dit is wat met baie van ons broers en susters gebeur het wat besluit het om uit Oekraïne te vlug nadat Rusland die land aangeval het op 24 Februarie 2022. Daar is omtrent 130 000 Getuies van Jehovah in Oekraïne. Tot nou toe het meer as 36 000 Getuies besluit om uit hulle huise te vlug en meer as 16 000 het na ander lande gevlug. Baie Getuies het hulle huise, werk en gemeentes agtergelaat. Gedurende die oorlog word die mans van Oekraïne tussen die ouderdom van 18 en 60 jaar nie toegelaat om die land te verlaat nie. Maar mans van ander lande word toegelaat om Oekraïne te verlaat.
Diegene wat vlug, kan net ’n paar noodsaaklike dinge saamvat. Hulle gebruik treine of busse en begin met ’n moeilike reis om by ’n veilige plek te kom. Partykeer weet hulle nie eers waarheen die reis hulle gaan vat nie. Hulle geloof in Jehovah gee hulle die moed om stede wat deur die oorlog verwoes is, te verlaat, sonder dat hulle weet of hulle ooit weer sal terugkeer.
Jana het gesê: “Ons het alles agtergelos. Ons het net ’n paar goedjies gevat. Die situasie het ons regtig herinner dat al wat saak maak, is jou verhouding met Jehovah.”
Suster Lilia Antonioek kon die lugsirenes en bomme wat ontplof, by haar huis in Kijif hoor. Op die paaie was daar uitgebrande karre en rommel van geboue en brûe.
Lilia en haar 17-jarige dogter, Oleksandra, het besluit om die land te verlaat. Hulle het vir ’n hele paar dae op ’n oorvol trein na Pole gereis. Hulle het baie min kos gehad en moes ure lank staan. Die susters het minder angstig gevoel toe hulle in Przemyśl, Pole, aankom.
Lilia het gesê: “Toe ons die broers met die ‘JW.ORG’-tekens sien, het ons geweet dat hulle vir ons sal sorg.” Die susters was na ’n Koninkryksaal gevat waar hulle warm kon word, iets kon eet en kon rus voordat hulle na privaat huise toe gevat is waar hulle sou bly.
“Ons het Jehovah se sorg gevoel, en ons geloof was versterk,” het Lilia gesê, wat intussen na Duitsland gereis het. “Ek is baie dankbaar vir Jehovah se liefde en vir die broers en susters wat gereed is om in moeilike tye te help.”
Suster Anastasija Kowaljowa het beskryf hoe invallende magte die stad Zaporizja uit die lug aangeval het. In haar woonstel het sy die helder flitse gesien en die ontploffings gehoor van die bomme wat geval het. Die bomme wat die heeltyd ontplof het, was baie traumaties vir Anastasija se broer se kinders, wat sewe en drie jaar oud is. Daarom het die familie besluit om te vlug. Anastasija vertel: “Omdat ons nie baie saam met ons kon vat nie, het ons nie genoeg klere en ander dinge gehad nie. Maar die broers het vir alles gesorg. Ons het alles gekry wat ons nodig gehad het en selfs meer.” Anastasija, haar skoonsuster, Anja, en die kinders het deur Pole na Duitsland gereis.
Elke keer as die lugsirenes afgegaan het, het suster Anastasija Sjtsjoekina en haar ma, suster Olha Lisenko, hulleself in die koue kelderverdieping van hulle klein huisie toegesluit. Die pioniersusters het gedien waar hulp nodig was in die klein dorpie Brailif, Winnitsia-oblast. Dit was vir hulle baie moeilik om te besluit of hulle moes weggaan en of hulle daar moes bly. Maar toe dit te gevaarlik geword het, het hulle besluit om te vlug. Hulle het net gevat wat nodig was en twee dae per trein gereis. Hulle het baie min geslaap gedurende die reis. Dit was moeilik vir Olha, wat 58 jaar oud is en gesondheidsprobleme het, om te vlug. Hulle het tweeuur in die oggend in Rzeszów, Pole, aangekom. Hulle geestelike familie was daar om hulle te ontmoet. Anastasija sê: “Alhoewel dit baie vroeg in die oggend was, het ons broers en susters vir ons gewag. Ons is so dankbaar teenoor Jehovah en die broers en susters.
In die stad Soemi het broer Andrzej Chyba, ’n burger van Pole, en sy vrou, Elizabeth, van Brittanje, saam met vyf ander mense in die kelderverdieping van ’n broer se huis weggekruip. Hulle kon vegvliegtuie, geweerskote en bomme hoor. Die broers het meer moed gekry toe hulle na die Bybeldrama O Jehovah, . . . in u het ek my vertroue gestel gekyk het. Dit het die verhaal vertel van wat koning Hiskia gedoen het toe die Assiriërs Jerusalem wou aanval.
Andrzej, wat nou saam met sy vrou in Pole is, het gesê: “Die broers en susters het vir ons verskillende skriftuurlike gedagtes gestuur, soos die aanmoediging om Psalm 27 te lees.”
Ons is daarvan oortuig dat Jehovah ons broers en susters sal seën wat “die verlies van alles aanvaar” terwyl hulle uitsien na ’n toekoms sonder oorlog. – Filippense 3:8.