Spring na inhoud

19 AUGUSTUS 2024
WÊRELDNUUS

Orkaan Debby veroorsaak groot oorstromings op die ooskus van Noord-Amerika

Orkaan Debby veroorsaak groot oorstromings op die ooskus van Noord-Amerika

Aan die begin van Augustus 2024 het ’n sterk storm oor die Atlantiese Oseaan gevorm. Dit het gou in ’n orkaan ontwikkel en is orkaan Debby genoem. Toe, op 5 Augustus 2024, het die kategorie-1-orkaan Florida, VSA, getref met ’n windsterkte van 130 kilometer per uur. Die storm het ook ten minste 12 tornado’s veroorsaak. Sterk winde en swaar reën het honderdduisende mense sonder elektrisiteit gelaat. In die Verenigde State het ten minste agt mense gesterf.

Daarna het Debby in ’n kragtige tropiese storm verander en stadig noordwaarts na Kanada beweeg. Op Vrydag 9 Augustus 2024 het soveel as 22 sentimeter reën in minder as 24 uur in die Kanadese provinsie Quebec geval. Die swaar reën het huise oorstroom, die infrastruktuur in dele van die provinsie beskadig en honderde mense gedwing om hulle huise te verlaat en na veiliger gebiede te gaan. Daar is berigte dat een persoon in Kanada gesterf het.

Hoe ons broers en susters geraak is

Verenigde State

  • Nie een van ons broers of susters het gesterf nie

  • 1 verkondiger is in die hospitaal opgeneem

  • 23 verkondigers moes hulle huise verlaat

  • 7 huise is erg beskadig

  • 60 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 1 Koninkryksaal is beskadig, maar nie te erg nie

Kanada

  • Nie een van ons broers of susters het gesterf nie. Maar ons is hartseer om te sê dat ’n Bybelstudent sy lewe in ’n modderstorting verloor het

  • 1 verkondiger is beseer

  • 23 verkondigers moes hulle huise verlaat, maar die meeste kon intussen na hulle huise terugkeer

  • 2 huise is erg beskadig

  • 165 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • Geen Koninkryksale is beskadig of vernietig nie

Noodlenigingspogings

  • Kringopsieners en plaaslike ouermanne in die Verenigde State en Kanada gee aanmoediging uit die Bybel en voorsien praktiese hulp aan al die broers en susters in die gebiede wat geraak is

  • ’n Noodlenigingskomitee is in Kanada aangestel en voorsien hulp waar dit nodig is

Ons hou aan om te bid vir dié wat deur hierdie kragtige storm geraak is. Dit vertroos ons om te weet dat Jehovah altyd “ons redding in moeilike tye” sal wees. – Jesaja 33:2.