14 NOVEMBER 2019
WÊRELDNUUS
Spesiale kampanje vir mense wat Arabies praat in Oostenryk en Duitsland
Vanaf 31 Augustus tot 26 Oktober 2019 het broers en susters uit 19 lande deelgeneem aan ’n Bybelonderrigtingskampanje in die Arabiese veld in Oostenryk en Duitsland. Gedurende die spesiale kampanje het 1 782 Jehovah se Getuies hieraan deelgeneem. Hulle het altesaam 40 724 uur in die onderrigtingswerk spandeer, ons video’s 4 483 keer gewys en 24 769 stukke Bybellektuur geplaas.
Oor die afgelope paar jaar het meer as een miljoen vlugtelinge na Oostenryk en Duitsland gevlug. Die meeste van hulle kom van lande waar Arabies gepraat word. Baie van hierdie vlugtelinge het nog nooit die vertroostende boodskap van die Bybel gehoor nie. Besoekende broers en susters van Kanada, die Verenigde State en verskillende lande in Europa het die 1 108 verkondigers ondersteun wat in die Arabiese veld in Oostenryk en Duitsland dien. Saam het hulle 24 streke besoek, insluitende groot stede soos Berlyn, Dresden, Frankfurt, Graz, Hamburg, Keulen en Wene.
Een plaaslike broer het geskryf: “Ons het nooit gedink dat hierdie kampanje so ’n positiewe invloed op ons sou hê nie. Die besoekende broers het ons aangemoedig, en ons is so dankbaar vir hulle hulp. Ons waardeer die feit dat ons die geleentheid gehad het om aan hierdie spesiale kampanje deel te neem.”
Nadat ’n jong man wat Arabies praat by ’n vergadering van Jehovah se Getuies was, het hy ’n broer opgewonde gevra: “Weet jy wat mahabba in Duits beteken?”
Die broer het geantwoord: “Liebe (liefde)!”
Die jong man het gesê: “Ja, dit is wat ek hier by die vergadering vandag gesien het! Julle was so vriendelik met my. Almal het my gegroet en my hand geskud. Ek het mense van verskillende lande gesien wat mekaar met respek behandel. As almal so was, is ek seker dat die hele wêreld ’n beter plek sou wees!”
Nog ’n man het oor Jehovah se Getuies gesê: “Julle het geleer hoe om mense op ’n vriendelike manier te behandel en julle het een van die beste groepe mense in die wêreld geword.”
’n Paartjie wat Arabies praat en wat al amper ’n jaar in Duitsland woon, het broers in hulle huis ingenooi vir tee. Nadat die broers die doel van hulle besoek verduidelik het, het die vrou gevra: “Is julle Jehovah se Getuies?” Toe die broers ja sê, het die vrou geantwoord: “Ongelooflik! Ek soek nou al maande lank vir julle. Ek het selfs na die hooftreinstasie gegaan om na julle te soek. En hier is julle. Julle het na my toe gekom! God het julle gestuur.”
Jehovah het die ywer van die broers en susters baie geseën wat aan hierdie spesiale kampanje deelgeneem het om die Bybel se boodskap van hoop aan “mense van al die nasies” te verkondig. – Matteus 28:19.