Spring na inhoud

Venezuela: ’n Suster maak ’n opname in die Warao-taal (bo links), en twee broers op die Piaroa-vertaalspan is besig om te werk (links onder). Suid-Korea: ’n Gesin kyk na die streekbyeenkomsprogram vir 2020 (regs)

4 SEPTEMBER 2020
WÊRELDNUUS

Streekbyeenkoms vir 2020 – Vertalers voltooi projek ten spyte van uitdagings

Streekbyeenkoms vir 2020 – Vertalers voltooi projek ten spyte van uitdagings

Die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020 was werklik uniek in die moderne geskiedenis van Jehovah se Getuies. Die program is in meer as 500 tale vertaal, en mense kon dit deur middel van die Internet kyk. Vertalers moes ’n hele paar uitdagings oorkom, insluitende beperkte toerusting en baie min tyd.

’n Lid van die Kikuyu-vertaalspan in Kenia sê: “As gevolg van die takkantoor se inperking was daar min mense beskikbaar wat ons vir opnames kon gebruik. Ons het hierdie probleem oorkom deur broers en susters in afgesonderde gebiede te gebruik. Ons voel bevoorreg dat ons Jehovah se gees in aksie gesien het.”

Die vertaalspanne vir Koreaans en Koreaanse Gebaretaal het soortgelyke probleme gehad. Broers en susters wat die spanne met die werk ondersteun, kon nie na Bethel toe kom vir opnames nie.

 

’n Tydelike studio is in ’n broer se huis opgestel om toesprake en video’s in Koreaanse Gebaretaal op te neem

Om hierdie probleem te oorkom, het broers studio’s in hulle huise opgestel. Plaaslike broers en susters het die meeste van die toerusting wat vir die opnames nodig was, geskenk. Omdat al die kringbyeenkomste gekanselleer is, kon die takkantoor ook party van die kameras in die Byeenkomssale gebruik om die program in gebaretaal op te neem.

In Venezuela het party vertalers met swak Internetverbinding gesukkel. Ander het nie genoeg toerusting gehad nie. Maar hierdie kreatiewe vertalers het gebruik wat ook al beskikbaar was om hulle werk te doen. Byvoorbeeld, vertalers in een gebied het matrasse gebruik om die ergste geraas uit te skakel wanneer hulle opnames gemaak het.

In Joeba, Suid-Soedan, is ’n vertaalspan wat in Zande vertaal. Een van die vertalers sê: “Toe ek hoor dat ons die hele byeenkoms gaan opneem, het ek vir myself gesê: ‘Dit is onmoontlik! Ons kan nie die hele byeenkomsprogram met meer as 90 oudio- en video-opnames in net twee maande opneem nie.’ Nou dat ons die werk klaargemaak het, het ek volle vertroue dat niks Jehovah kan keer om sy wil uit te voer nie. Sy manier van dinge doen, is ongelooflik!” – Matteus 19:26.

Die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkomsprogram vir 2020 was beslis ’n geskenk van Jehovah, “wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en akkurate kennis van die waarheid moet kry”. – 1 Timoteus 2:4.