Spring na inhoud

25 JANUARIE 2023
WÊRELDNUUS

Tien jaar van JW.ORG – Deel 2

Om die broers en susters op hoogte van die jongste nuus te hou

Tien jaar van JW.ORG – Deel 2

Deel een van hierdie reeks het gegaan oor die rol wat jw.org daarin speel om video’s en publikasies in digitale formaat te versprei. Deel twee sal kyk na hoe jw.org die broers en susters wêreldwyd gehelp het om op hoogte te bly van dinge wat gebeur wat Jehovah se Getuies raak.

Tydige nuusartikels: Die gedeelte JW-nuus op jw.org bevat gereeld die jongste artikels met betroubare inligting oor ons broers. Dit sluit gereeld die jongste nuus in oor natuurrampe en noodlenigingspogings, teenstand van regerings, ons broers en susters in verskillende lande wat onregverdig in die tronk gesit word en ander belangrike nuus. Byvoorbeeld, op 21 Maart 2017 het ’n artikel ons laat weet van ’n dreigende verbod op die aanbidding van Jehovah se Getuies in Rusland en ons genooi om briewe aan Russiese regeringsamptenare te skryf.

Belangrike nuus: Die funksie Belangrike nuus het die eerste keer in Julie 2017 op jw.org verskyn. Hierdie kort nuusflitse laat weet die broers en susters van belangrike nuus in net ’n paar sinne. Byvoorbeeld, hierdie nuusflitse word vrygestel wanneer broers en susters wat in die tronk was weens hulle geloof, vrygelaat word. Dit het gebeur op 31 Desember 2020, toe Feliks Machammadijef uit ’n Russiese tronk vrygelaat is en weer met sy vrou, Jefgenija, verenig is. Gedurende die pandemie is Belangrike nuus gebruik om die aanlyn streekbyeenkoms-sessies te adverteer en om die broers en susters te laat weet van belangrike besluite wat deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gemaak is. Dit sluit besluite in soos toe ons weer vergaderinge in persoon begin bywoon het en weer aan die openbare bediening begin deelneem het. Baie nuusflitse is vrygestel binne ’n paar uur nadat iets belangriks in ’n deel van die wêreld gebeur het. Byvoorbeeld, in Junie 2018 is ’n nuusflits vrygestel kort nadat Suid-Korea se konstitusionele hof die belangrike uitspraak gegee het dat dit onwettig is vir die regering om nie ’n vorm van alternatiewe burgerlike diens aan te bied nie.

Jongste nuus van die Bestuursliggaam: Op 18 Maart 2020 is die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir die eerste keer op jw.org vrygestel om aanmoediging gedurende die COVID-19-pandemie te gee. Baie voel soos een suster wat oor die jongste nuus gesê het: “Hulle voel soos ’n vriend wat persoonlik inloer om te sien of ek oukei is. Ek kan my nie voorstel hoe dit sou wees om sonder hierdie jongste nuus deur die pandemie te gaan nie. Dit kom altyd op die regte tyd.” Altesaam 28 van hierdie tydige video’s met die jongste nuus is tot dusver vrygestel.

Terwyl die wêreld al hoe meer verdeeld word en belangrike gebeure vinniger plaasvind, word dit al hoe moeiliker om betroubare nuusbronne te vind. Maar ons is bly dat ons broers en susters tydige en akkurate verslae op jw.org kan kry. Dit help elkeen van ons om ‘kalm te bly en vertroue te hê’ in ons God, Jehovah. – Jesaja 30:15.

  • Video’s wat elke maand afgelaai word

  • Aantal daaglikse besoekers elke maand

  • Aankondiging oor wêreldwye kampanje om briewe te skryf in Maart 2017

  • Vrystelling van Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir die eerste keer in Maart 2020

  • Aankondiging om weer vergaderinge in persoon by te woon in Maart 2022

  • Aankondiging om weer aan die openbare bediening deel te neem in Junie 2022

  • Vrystelling van aanlyn streekbyeenkoms-sessies in Junie tot Augustus 2022