Spring na inhoud

7 JUNIE 2023
WÊRELDNUUS

Toere by Bethelfasiliteite regoor die wêreld begin weer

Toere by Bethelfasiliteite regoor die wêreld begin weer

Op 1 Junie 2023 het baie Bethelfasiliteite regoor die wêreld weer hulle deure oopgemaak vir toere. Daar was meer as drie jaar geen toere nie as gevolg van die COVID-19-pandemie. Dit was ’n spesiale dag vir die lede van die wêreldwye Bethelgesin en vir die duisende mense wat vir toere gekom het.

Diegene wat help met die toere, is opgewonde en groet die besoekers by die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, VSA

Toe die besoekers daar aankom, het die Betheliete hulle verwelkom met plakkate, liedjies, glimlagte en stywe drukkies. Ellis Bott, wat gedurende die pandemie by die wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, begin dien het, sê: “Dit was net ongelooflik om te sien hoe die Betheliete buite die ontvangs met plakkate staan! Die trane van vreugde wat ek gesien het, het my herinner aan wat ’n wonderlike plek Bethel regtig is.” Alexis Alexander, ’n deeltydse pendelaar by Bethel, was baie opgewonde om die besoekers te groet en hulle welkom te laat voel. Sy het gesê: “Dit was regtig baie spesiaal om die broers se liefde vir Jehovah en Sy huis te sien.”

Mi-jeon Djo en haar agtjarige seun, Joon, besoek die Bethel in Korea

Mi-jeon Djo was opgewonde dat sy uiteindelik haar agtjarige seun, Joon, vir ’n toer by die takkantoor in Suid-Korea kon bring. Joon was so opgewonde oor die toer by Bethel dat hy skaars die aand voor die tyd kon slaap. Mi-jeon het gesê: “Die oomblik toe ons wakker word, het ons na die liedjie oor Caleb en Sophia wat Bethel besoek, geluister. En ons het dit selfs in die kar gespeel op pad na die takkantoor toe.” Joon het die toer so baie geniet dat hy gesê het: “Al wat Bethel nodig het, is diere, en dan sal dit paradys wees.”

Noah Johnsen en sy ouers besoek die Verenigde State se takkantoor in Wallkill, New York

Noah Johnsen, ’n jong man van Alberta, Kanada, wat spinale spieratrofie het, wou nog altyd die Bethelfasiliteite in New York, VSA, besoek. Omdat hy as gevolg van sy siekte nie per vliegtuig kon reis nie, het sy ouers omtrent 4 100 kilometer gery sodat hy vir ’n toer by die takkantoor in die Verenigde State in Wallkill, New York, kon gaan. Wanneer hy terugdink aan sy besoek, sê Noah: “Die hele ondervinding kan in een woord opgesom word – liefde. Ek het Jehovah se liefde en die liefde van die broers gevoel.”

Fyodor Zhitnikov en sy vrou, Yulita, kyk na die museumuitstalling by die takkantoor in Kazakstan

Fyodor Zhitnikov, wat 76 jaar oud is, en sy vrou, Yulita, was baie opgewonde om die museum by die Bethelfasiliteite in Kazakstan te besoek. Een gedeelte van die museum wys die verhaal van ’n hele paar broers en susters wat jare lank volhard het. Hierdie uitstalling lê Fyodor veral na aan die hart omdat hy Jehovah saam met baie van hulle gedien het. Fyodor was baie dankbaar vir al die werk wat gedoen is om die uitstalling voor te berei. Hy het gesê: “As dit belangrik vir ons broers was om te onthou wat ons in Jehovah se diens gedoen het, dan weet ons dat Jehovah alles onthou en die werk wat elkeen van ons doen, waardeer.”

Ons is baie bly dat ons weereens besoekers kan verwelkom by ons Bethelfasiliteite regoor die wêreld. Ons sien daarna uit om nog baie duisende te verwelkom in die dae wat voorlê! – Psalm 122:1.

Hieronder is ’n paar foto’s van ons broers en susters wat verskillende Bethelfasiliteite en museums besoek.

 

Argentinië

België

Brasilië

Dominikaanse Republiek

Ecuador

Frankryk

Kazakstan

Nieu-Kaledonië

Nigerië

Suid-Korea

Verenigde State – Wallkill, New York

Verenigde State – Warwick, New York