Spring na inhoud

20 MAART 2014
WÊRELDNUUS

Guy H. Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, sterf

Guy H. Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, sterf

NEW YORK—Guy H. Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, is op Dinsdag 18 Maart oorlede. Hy was 79 jaar oud.

Mnr. Pierce het op verskeie komitees gedien, wat oor sekere bedrywighede van die Getuies en hulle internasionale Bybelonderrigtingswerk toesig hou. Sy organisatoriese verantwoordelikhede het vereis dat hy baie reis, en hy het hierdie geleenthede gebruik om Getuies van Jehovah regoor die wêreld aan te moedig. Ondanks sy werklas was hy daarvoor bekend dat hy nooit te besig was om te luister na diegene wat hulp of raad nodig gehad het nie, en hy het mense op hulle gemak laat voel met sy hartlike glimlag en goeie sin vir humor. Diegene wat hom goed geken het, sê dat mense van verskillende agtergronde en kulture van nature tot hom aangetrokke gevoel het. In ’n toespraak by ’n gradueringsprogram vir voltydse bedienaars, het mnr. Pierce die volgende raad gegee: “Neem ferm standpunt in vir regte beginsels, maar wees buigsaam. Moenie neersien op die mense in jou toewysing omdat hulle kultuur anders is nie.” Hy het self ’n goeie voorbeeld hierin gestel.

Guy Hollis Pierce is op 6 November 1934 in Auburn, Kalifornië gebore. Hy is op 14 Augustus 1955, op 20-jarige ouderdom, as een van Jehovah se Getuies gedoop. Op 30 Mei 1977 het hy getrou met ’n mede-Getuie, Penelope (Penny) Wong, en saam het hulle ’n gesin grootgemaak. Mnr. en mev. Pierce het as gewone pioniers begin dien, soos voltydse Bybelonderrigters onder Jehovah se Getuies bekend staan. Later het hy ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies geword en gemeentes regoor die Verenigde State besoek om ander voltydse Bybelonderrigters en plaaslike gemeentelede geestelik aan te moedig. In 1997 is mnr. Pierce en sy vrou genooi om voltyds by die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Verenigde State te gaan werk. Op 2 Oktober 1999 is daar aangekondig dat mnr. Pierce as ’n nuwe lid van die Bestuursliggaam aangestel is.

Op die naweek van 5 en 6 Oktober 2013 was mnr. Pierce die voorsitter by die 129ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. Altesaam 1 413 676 mense in 31 lande het die program bygewoon of deur middel van ’n webuitsending daarna geluister. Volgens die Getuies se amptelike webwerf was dit die grootste samekoms van Jehovah se Getuies tot nog toe.

Mnr. Pierce laat sy vrou, Penny, agter, asook sy ses kinders en ’n hele paar kleinkinders en agterkleinkinders. Hy sal ook met geneentheid onthou word deur Jehovah se Getuies regoor die wêreld, wat hy as sy familie beskou het.

Die oorblywende lede van die Bestuursliggaam het in ’n verklaring kommentaar gelewer oor “sy sterk geloof en die ferm standpunt wat hy vir Jehovah se wette en beginsels ingeneem het”, en het bygevoeg: “Die herinneringe wat ons het van die moedige en getroue manier waarop hy sy lewe op aarde gelei het, sal aanhou om ons in die jare wat voorlê, te versterk.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J. R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000