Spring na inhoud

4 MEI 2016
WÊRELDNUUS

Getuies fokus op lojaliteit vir die reeks byeenkomste in 2016

Getuies fokus op lojaliteit vir die reeks byeenkomste in 2016

NEW YORK—Jehovah se Getuies nooi mense om hulle “Bly lojaal aan Jehovah!”-streekbyeenkomste vir 2016 by te woon. Vanaf Vrydag 20 Mei sal die Getuies hierdie gratis geleenthede in die Verenigde State en regoor die wêreld aanbied.

Die driedaagse byeenkoms sal 49 toesprake insluit, en elkeen sal die tema “lojaliteit” bespreek. Die Getuies het ook 35 video’s spesifiek vir die program gemaak, asook twee kort rolprente wat op die Saterdag en Sondag gewys sal word. Elke dag sal die oggend- en middagsessies ingelui word deur musiekvideo’s wat vir die byeenkoms opgeneem is.

Soos die Getuies in vorige jare gedoen het, sal hulle ’n spesiale uitnodiging uitgee om die publiek te nooi om die program by te woon. Die datums van elke byeenkoms en waar dit gehou sal word, kan op die Getuies se amptelike webwerf, jw.org, gevind word. Joernaliste kan met die naaste takkantoor van Jehovah se Getuies in verbinding tree vir meer inligting en om die naam te kry van ’n plaaslike mediaverteenwoordiger met wie verslaggewers in aanraking kan kom as hulle oor die streekbyeenkoms verslag wil lewer.

David A. Semonian, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, sê: “Ons is vas oortuig dat lojaliteit ’n belangrike deel is van enige gesonde verhouding. Hierdie jaar bevat ons byeenkoms inligting wat mense sal help om sterker bande met vriende, familielede, en bowenal, met God te hê. Ons is oortuig dat almal wat hierdie program bywoon, dit sal geniet.”

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000