Spring na inhoud

WÊRELDNUUS

In die tronk weens hulle geloof – Die Krim

In die tronk weens hulle geloof – Die Krim

Net soos die Russiese regering Jehovah se Getuies aggressief vervolg, gebeur dieselfde nou ook in die Krim. In Rusland het die regering nie net die Getuies se regsentiteite verban nie, maar hulle het dit ook duidelik gemaak dat hulle ’n einde wil maak aan die Getuies se vreedsame aanbidding. Vanaf die verbod in April 2017 het die Russiese regering baie keer Getuie-samekomste regoor Rusland onderbreek en deursoek. Die gevolg hiervan is dat daar heelwat Getuies gearresteer is en in die tronk gesit is. Dieselfde wrede taktieke teen Jehovah se Getuies word nou ook in die Krim gebruik.

Die eerste geval waar baie huise in die Krim deursoek is, het op 15 November 2018 in Dzjankoi gebeur, toe omtrent 200 beamptes van die polisie en die spesiale magte agt privaat huise van Getuies deursoek het. Die Getuies het in daardie huise in kleiner groepe bymekaargekom om die Bybel saam te lees en te bespreek. Ten minste 35 gewapende en gemaskerde beamptes het die huis van Sergei Filatof met geweld binnegedring, waar ’n groep van ses Getuies bymekaargekom het. Hierdie aggressiewe optrede was traumaties vir die Getuies. Die polisie het ’n 78-jarige man teen die muur en toe op die grond vasgedruk, hom geboei en hom so erg geslaan dat hy hospitaal toe gejaag moes word. Twee ander ouer manne was so getraumatiseer dat hulle na die hospitaal gejaag moes word omdat hulle bloeddruk verskriklik hoog was. Ongelukkig het ’n jong vrou wie se huis ook deursoek is, ’n miskraam gehad.

Ná die voorval is mnr. Filatof krimineel aangekla onder Artikel 282.2(1) van die Russiese Strafwet vir die organisering van die bedrywigheid van ’n “ekstremistiese organisasie”. Op 5 Maart 2020 het die distrikshof in die Krim mnr. Filatof tot ses jaar tronkstraf in ’n strafkolonie gevonnis. Ná die uitspraak is hy onmiddellik tronk toe geneem.

In die jare nadat die Getuies se huise in 2018 in Dzjankoi deursoek is, het offisiere van die spesiale magte aangehou om Getuies se huise met geweld binne te dring as hulle verdink word van ekstremistiese bedrywighede. Die onlangsste geval waar ’n Getuie se huis deursoek is, het op 22 Mei 2023 gebeur. Meer as tien offisiere, waarvan vyf gewapen was, het om 6:30 in die oggend ’n huis in Feodosia binnegedring. Hulle het die Getuies beveel om op die grond te lê terwyl hulle die huis meer as drie uur lank deursoek het. Een van die Getuie-mans is aangehou en na Sewastopol geneem vir ondervraging.

As gevolg van hierdie optrede en die kriminele hofsake en skuldigbevindings daarna, is daar op die oomblik nege Getuie-mans in die tronk wat tronkstrawwe van tot ses en ’n half jaar uitdien. Hulle almal is daarvan aangekla dat hulle die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie bevorder.

Tydlyn

  1. 17 September 2024

    Nege Getuies van Jehovah is op die oomblik in die tronk in die Krim.

  2. 22 Mei 2023

    Offisiere deursoek ’n Getuie-huis in Feodosia. Elektroniese toestelle word afgevat en een Getuie word aangehou.

  3. 5 Augustus 2021

    Agt huise van Getuies deursoek. Aleksandr Doebowenko en Aleksandr Litfinjoek gearresteer.

  4. 1 Oktober 2020

    Nege huise word in Sewastopol deursoek. Igor Shmidt word gearresteer en in aanhouding gesit voor sy verhoor.

  5. 4 Junie 2019

    Offisiere van die spesiale magte deursoek tien huise in Sewastopol. Mnr. Stasjefski word daarna daarvan aangekla dat hy ekstremistiese bedrywighede reël.

  6. 20 Maart 2019

    Offisiere van die spesiale magte deursoek agt huise in Aloepka en Jalta. Mnr. Gerasimof word ondervra en daarna daarvan aangekla dat hy ekstremistiese bedrywighede reël.

  7. 15 November 2018

    Agt huise in Dzjankoi is deur meer as 200 beamptes van die polisie en die spesiale magte deursoek, insluitende mnr. Filatof se huis.