Spring na inhoud

15 MEI 2014
WÊRELDNUUS

Jehovah se Getuies kondig ’n reeks internasionale byeenkomste aan

Jehovah se Getuies kondig ’n reeks internasionale byeenkomste aan

NEW YORK—Jehovah se Getuies het aangekondig dat hulle vanaf Junie 2014 tot Januarie 2015 driedaagse internasionale byeenkomste in stede regoor die wêreld sal hou. Die reeks byeenkomste sal in die Verenigde State begin en dan gehou word in Australië, Duitsland, Ecuador, Engeland, Griekeland, Mexiko, Suid-Korea en Zimbabwe. Hierdie internasionale geleenthede sal ooreenstem met die kleiner streekbyeenkomste wat die Getuies elke jaar op verskillende plekke hou.

Die reeks internasionale byeenkomste sal op 6 Junie 2014 by Ford Field in Detroit, Michigan, VSA, begin. Sowat 45 500 mense sal na verwagting die geleentheid bywoon, insluitende 2 500 buitelandse afgevaardigdes.

Daar sal afgevaardigdes van ander lande by die internasionale byeenkomste wees, en by party sal daar ook besoekende sendelinge wees. J.R. Brown, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, sê: “Ons internasionale byeenkomste is opwindende en vreugdevolle geleenthede. Ons is seker dat die publiek hierdie geleenthede saam met ons sal geniet terwyl ons as families en vriende vir hierdie uitsonderlike reeks programme bymekaarkom.”

Die tema van die reeks byeenkomste is “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!” Mnr. Brown verduidelik dat “die program die hooftema van die Bybel sal beklemtoon, asook twee fundamentele opvattings van Jehovah se Getuies: dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is en dat Jesus Christus die Koning van hierdie Koninkryk is. Hierdie byeenkoms word immers in die 100ste bestaansjaar van God se Koninkryk gehou.”

Die Getuies tref voorbereidings vir ’n internasionale kampanje om mense na ’n byeenkoms in hulle omgewing te nooi. Soos die geval is met al die Getuies se vergaderinge, sal daar geen toegangsgeld gevra word of kollektes opgeneem word nie.

Die presiese datums en plekke van die “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!”-byeenkomste vir 2014 is beskikbaar op jw.org, die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies. Joernaliste kan die takkantoor van Jehovah se Getuies vra vir die naam van ’n mediaverteenwoordiger van ’n plaaslike byeenkoms en ander bronne vir nuusdekking van die byeenkoms.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000