Spring na inhoud

13 MAART 2014
WÊRELDNUUS

Jehovah se Getuies stel die grootdrukuitgawe van die pas hersiene Bybel vry

Jehovah se Getuies stel die grootdrukuitgawe van die pas hersiene Bybel vry

NEW YORK—In hulle volgehoue pogings om die Bybel aan soveel mense as moontlik beskikbaar te maak, stel Jehovah se Getuies ’n grootdrukuitgawe van die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Engels vry. Hierdie uitgawe, wat in die Verenigde State en Japan gedruk word, sal na verwagting ’n eerste oplaag van altesaam 424 000 eksemplare hê.

Die Getuies het die standaarduitgawe van die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling in Engels by ’n spesiale vergadering vrygestel wat op 5 en 6 Oktober 2013 na 31 lande uitgesaai is. Die hersiene uitgawe van 2013 verteenwoordig die omvattendste bywerking van hierdie vertaling sedert 1984. Op 7 Oktober 2013 het die Getuies hierdie vertaling van die Bybel op ’n kruisplatformtoepassing, JW Library, beskikbaar gestel, en dit is alreeds byna 1,4 miljoen keer afgelaai. Die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling is ook in ’n verskeidenheid elektroniese formate op www.pr418.com beskikbaar.

Die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling in alle formate bevat byna 60 000 kruisverwysings, wat lesers help om die konteks van Bybelverslae beter te verstaan. Dit bevat ook volkleur diagramme, kaarte van Bybellande en tabelle wat besonderhede van die daaglikse lewe in Bybeltye uitbeeld. ’n Aanhangsel verduidelik onderwerpe soos die beginsels van Bybelvertaling en die geskiedenis van hoe die Bybel geskryf is en behoue gebly het.

God se persoonlike naam het alreeds sowat 7 000 keer in die 1984-uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling verskyn. Maar die 2013-uitgawe weerspieël die jongste navorsing oor waar God se naam in die oudste Bybelmanuskripte verskyn. Op grond van ’n verdere studie van die Dooie See-rolle en ander ou manuskripte is die goddelike naam op ’n bykomende ses plekke in die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling ingesluit, naamlik in Rigters 19:18; 1 Samuel 2:25; 6:3; 10:26; 23:14; 23:16. ’n Aanhangsel bespreek ook die gebruik van die goddelike naam in eertydse Hebreeus en Grieks, sowel as waar dit in Bybelvertalings in verskeie moderne dialekte en tale voorkom.

Die Getuies druk, versprei en vertaal die Nuwe Wêreld-vertaling al etlike dekades lank, en dit word hoog deur geleerdes aangeskryf weens die akkuraatheid daarvan. Die volledige teks van hierdie vertaling is vir die eerste keer in 1961 in Engels beskikbaar gestel. In 1963 het The New York Times berig dat die Nuwe Wêreld-vertaling in ses bykomende tale beskikbaar sou wees, soos aangekondig is by ’n Getuiebyeenkoms wat by die Yankee-stadion gehou is. Sedertdien het die Getuies hierdie vertaling in meer as 120 tale uitgegee. In onlangse jare het die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee besluit om die Nuwe Wêreld-vertaling in Engels te hersien om ooreen te stem met veranderinge in die taal en om sekere Bybelse uitdrukkings duideliker te stel sodat dit lesersvriendeliker en verstaanbaarder kon wees. Die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling weerspieël hierdie vooruitgang in Bybelvertaling.

“Dit was opwindend om meer as 50 jaar gelede die eerste uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling te ontvang, en dit is selfs opwindender om die nuutste hersiene uitgawe te hê”, sê J.R. Brown, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier. “Ons wil die Heilige Skrif vir almal verstaanbaar maak deur taal te gebruik wat akkuraat, waardig en modern is.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000