Spring na inhoud

16 MEI 2013
WÊRELDNUUS

Jehovah se Getuies begin met “God se Woord is die waarheid!”-streekbyeenkomste

Jehovah se Getuies begin met “God se Woord is die waarheid!”-streekbyeenkomste

NEW YORK—Jehovah se Getuies tref reëlings vir hulle jaarlikse streekbyeenkomste en ’n gepaardgaande kampanje om die publiek te nooi om dit by te woon. Die tema van hierdie jaar se streekbyeenkoms is: “God se Woord is die waarheid!” Die Getuies begin met hierdie reeks streekbyeenkomste gedurende Mei in die Verenigde State, en die program sal tot die einde van Desember regoor die wêreld aangebied word.

“Die tema vir hierdie jaar se streekbyeenkoms is betekenisvol omdat dit die aandag vestig op iets wat Getuiegesinne as baie belangrik beskou”, sê J.R. Brown, die woordvoerder vir die Getuies. “Getuiegesinne aanvaar die Bybel as die betroubaarste gids en bron van raad in hierdie moeilike tye. En ons voel dat die publiek eweneens by die omvattende en praktiese program sal baat vind en dit sal geniet.”

Mnr. Brown sê dat persoonlike Bybelstudie vir Jehovah se Getuies ’n prioriteit is. Getuiegesinne wy elke week ’n hele aand aan Bybelstudie en -navorsing, wat hulle “Gesinsaanbidding” noem. “Hierdie jaar se streekbyeenkoms sal gesinne en individue voorsien van interessante, nuwe middele vir persoonlike en gesinsbybelstudie”, voeg Mnr. Brown by. “En dit is die ‘iets nuuts’ wat Getuies verwag om elke jaar by ons streekbyeenkomste te ontvang.”

Die presiese datums en plekke van die “God se Woord is die waarheid!”-streekbyeenkomste vir 2013 kan op die Getuies se amptelike webwerf—jw.org/af—gevind word. Joernaliste kan met die takkantoor van Jehovah se Getuies in verbinding tree vir meer inligting, insluitende die naam van ’n plaaslike mediaverteenwoordiger met wie verslaggewers wat beplan om nuusdekking van die byeenkoms te verskaf, in aanraking kan kom.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000