Spring na inhoud

(Links) Praktiese stappe om onsself te beskerm, sluit in dat ons oppervlaktes wat gereeld aangeraak word in ons huis en ons Koninkryksaal skoonhou; (Middel) In party gebiede wat geraak is, verkies verkondigers dalk om deel te neem aan ander vorme van die bediening, soos telefoongetuieniswerk; (Regs) In gebiede waar die siekte uitgebreek het, kan ouermanne, afhangende van plaaslike omstandighede, toegang gee tot opgeneemde vergaderinge

3 MAART 2020
WÊRELDNUUS

Korona-virus: Jongste nuus en hoe ons onsself kan beskerm

Korona-virus: Jongste nuus en hoe ons onsself kan beskerm

Die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies hou die situasie rondom die nuwe korona-virus (bekend as COVID-19) en die verspreiding daarvan fyn dop. Ons weet dat die Bybel voorspel dat daar gedurende die laaste dae vreeslike siektes sal wees (Lukas 21:11). Wanneer ’n epidemie uitbreek, is dit wys om praktiese stappe te neem om onsself sowel as ander te beskerm. – Spreuke 22:3.

Party wonder dalk hoe dit gaan met ons broers en susters in die gebiede wat geraak is. Die verspreiding van COVID-19 het ’n groot impak gehad op die takkantore en gemeentes in Italië, Japan, Suid-Korea en ander lande. In party gevalle moes die takkantoor toere en besoeke kanselleer. In ander gevalle het die regering groot publieke samekomste verbied, wat veroorsaak het dat die takkantoor kringbyeenkomste moes kanselleer. Gemeentes moes ook aanpassings maak wanneer dit kom by die bediening en gemeentelike vergaderinge in party gebiede. Ongeag hierdie uitdagings, hou ons broers aan om hulleself geestelik op te bou en om mekaar aan te moedig. – Judas 20, 21.

In hierdie situasies het ons broers gevind dat die beginsels hieronder almal kan help. Hierdie punte kan jou en jou gesin ook help as hierdie siekte in jou gebied uitbreek en versprei.

  • Moenie paniekerig raak nie. Ons moet versigtig wees wanneer ’n siekte versprei en ons bes doen om dit te vermy, maar ons moenie oorreageer omdat ons bang is nie. – Spreuke 14:15; Jesaja 30:15.

  • Volg die regering se aanbevelings en riglyne. Die regering maak dikwels reëls en stel beperkings om mense te beskerm. Dit is goed om op hoogte van sake te bly en te doen wat die regering sê. – Romeine 13:1.

  • Wees skoon. Dit is noodsaaklik om jou hande gereeld te was met seep en water of om ’n ontsmettingsmiddel met alkohol te gebruik. Ons moet ook oppervlakte wat gereeld aangeraak word in ons huis en by ons Koninkryksaal skoonhou. Mediese kenners raai ook nie aan dat ’n mens hand skud in sulke situasies nie, want dit kan die siekte selfs verder versprei. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het nog raad oor die korona-virus aan die publiek bekend gemaak.

  • Wees liefdevol teenoor ander. Ons weet almal dat dit belangrik is om by Christelike vergaderinge te wees en deel te neem aan die openbare bediening, maar as jy siek is, is dit beter om by die huis te bly sodat jy nie ander aansteek nie. Dit is liefdevol en beskerm ons broers en susters en ons bure wat nie Getuies is nie. – Matteus 22:39.

  • Volg tydelike reëlings by die gemeente. In gebiede waar die siekte uitgebreek het, is dit dalk nodig vir die takkantoor om gemeentelike vergaderinge, byeenkomste en ander teokratiese bedrywighede tydelik te kanselleer. Dit is die geval in party gebiede waar die COVID-19-virus die meeste versprei het, soos in sekere dele van Italië, Japan en Suid-Korea. Die ouermanne kan, afhangende van plaaslike omstandighede, toegang gee tot opgeneemde vergaderinge, wat verkondigers by die huis kan kyk. Verkondigers kan aan die bediening deelneem deur middel van telefoonoproepe, SMS’e, e-posse of briewe.