Spring na inhoud

27 SEPTEMBER 2018
WÊRELDNUUS

Martin Boor: Vrygespreek deur Slowakye 90 jaar nadat hy gevonnis is

Martin Boor: Vrygespreek deur Slowakye 90 jaar nadat hy gevonnis is

Op 18 September 2015 het ’n hof in Slowakye Martin Boor vrygespreek. Hy is krimineel aangekla omdat hy ’n gewetensbeswaarde was. Die beslissing kom 90 jaar nadat broer Boor skuldig bevind is, wat dit die oudste regsaak in Slowakye maak waarin ’n vonnis van ’n gewetensbeswaarde ongeldig verklaar is.

Tronk toe gestuur vir sy moedige standpunt

Foto van Martin Boor toe hy gearresteer is.

Martin het in 1920 op 17-jarige ouderdom een van die Internasionale Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies toe bekend was. In Oktober 1924 is hy opgeroep om in die weermag te dien. Sy geloof het hom beweeg om nie deel te neem aan enige militêre bedrywighede nie en om nie die militêre eed af te lê nie. As gevolg hiervan het beamptes gewonder of hy mal is en beveel dat hy deur ’n dokter geëvalueer moet word. Die dokter wat broer Boor ondersoek het, het gevind dat hy gesond van verstand is en het gesê dat “sy godsdiensoortuigings nie op fantasieë gegrond is nie”.

Omdat daar vasgestel was dat Martin gesond van verstand is, het die hof op 2 April 1925 beslis dat sy weiering om by die weermag aan te sluit, ’n ernstige misdaad is. Hierdie jong getroude man was moedig toe die hof beslis het dat hy tot twee jaar tronkstraf gevonnis moet word. Dit sou wrede behandeling soos alleenopsluiting en min kos insluit. Maar Martin het nie twee jaar lank in die tronk gebly nie. Hy is op 13 Augustus 1926 op parool vrygelaat as gevolg van sy goeie gedrag.

Beslissing deur EHMR maak dit moontlik vir Boor om vrygespreek te word

Broer Boor is op 7 Januarie 1985 oorlede. Sy oorlewende familielede het vir die eerste keer in 2004 gevra dat die hof sy beslissing moet verander, maar hulle versoek is verwerp. Sewe jaar later het hulle gevra dat die distrikshof van Bratislava I die saak moet hersien nadat die Europese Hof van Menseregte (EHMR) in die saak Bayatyan v. Armenia beslis het dat die Europese Konvensie oor Menseregte gewetensbeswaardes beskerm. Maar al was daar oortuigende wetlike redes om die hof se beslissing teen Martin te verander, was die versoek nooit suksesvol nie omdat die plaaslike howe nooit ’n finale beslissing gelewer het nie. Dinge het eers verander nadat ’n ander gewetensbeswaarde se saak hersien is.

’n Baie belangrike beslissing: Die Vajda-saak

Soos Martin Boor, is Imrich Vajda ook een van Jehovah se Getuies wat geweier het om militêre diens te doen. Hy is in 1959 en 1961 onder die Kommunistiese regering gevonnis. Op 13 Maart 2014 het die konstitusionele hof in die Slowaakse Republiek beslis dat hy vrygespreek moet word volgens Tsjeggo-Slowaakse wet nr. 119/1990 Coll. oor wetlike rehabilitasie (vryspreking). Dit is ’n wet wat spesifiek ontwerp is om mense te help wat onregverdig gestraf is in die Kommunistiese era. In Imrich Vajda se saak het die konstitusionele hof vir die eerste keer gesê hoe Slowakye die EHMR-beslissing in die Bayatyan-saak moet toepas. Hulle het erken dat vryspreking of vergoeding ’n noodsaaklike regsmiddel is om gewetensbeswaardes wat as kriminele skuldig bevind is omdat hulle geweier het om militêre diens te doen.

As gevolg van die positiewe beslissing in die Vajda-saak, kon Martin Boor se familie die distrikshof van Bratislava I vra om hom onskuldig te verklaar. Op 18 September 2015 het die hof hierdie versoek aanvaar en die hof se vorige beslissing verander. So is Martin Boor 90 jaar nadat hy skuldig bevind is en 30 jaar ná sy dood, vrygespreek van enige misdaad as ’n gewetensbeswaarde.

Die EHMR-beslissing in Bayatyan en die konstitusionele hof se beslissing in die Vajda-saak het gehelp om ’n ongeregtigheid wat al lank aanhou, reg te stel. Tot nou toe is 51 Getuies van Jehovah — waarvan die meeste tussen 1948 en 1989 gevonnis is — heeltemal deur Slowaakse howe vrygespreek.