Spring na inhoud

Gileadgegradueerdes waai vir die gehoor wat deur middel van videostroming kyk

20 MAART 2020
WÊRELDNUUS

’n Unieke Gileadgraduering

’n Unieke Gileadgraduering

Die graduering van die 148ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead was dieselfde as al die ander graduerings, behalwe vir een verskil: daar was nie ’n gehoor in die ouditorium nie. Almal wat genooi was, het na die program gekyk deur middel van videostroming. Gedurende hierdie wêreldwye gesondheidskrisis is hierdie geestelike program die jongste voorbeeld van hoe Jehovah se organisasie aanpas by omstandighede wat verander.

Op 14 Maart 2020 is die program by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York, gehou. Broer Stephen Lett, ’n lid van die Bestuursliggaam, was die voorsitter van die program. Daar was altesaam 55 studente wat gegradueer het. a

In die weke voor die gradueringsprogram was daar baie nuusberigte oor die koronavirus wat wêreldwyd versprei het. Soos voorheen verduidelik is in die Nuus-afdeling van jw.org, het die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies die situasie dopgehou en riglyne voorsien aan alle gemeentes in ooreenstemming met die aanbevelings van die owerhede.

Een van hierdie aanbevelings was om die hoeveelheid mense by groot samekomste te beperk. Die Bestuursliggaam het vir hierdie en ander redes besluit dat gaste van buite nie die program kan bywoon nie. Hulle het ook besluit dat daar nie ’n gehoor in die ouditorium sal wees nie. Die Bethelgesin en die Gileadstudente het ’n goeie voorbeeld daarin gestel om gehoorsaam te wees aan die riglyne. – Johannes 13:34, 35.

Maar ’n videostroming was beskikbaar gemaak vir die gaste van die Gileadstudente en die Bethelgesin. Hierdie voorsiening het dit moontlik gemaak dat meer as 10 000 broers en susters regoor die wêreld, insluitende die vriende en familie van die gegradueerdes, die program kon kyk.

Die Bestuursliggaam wil graag hê dat geestelike vergaderinge, veral weeklikse gemeentelike vergaderinge, deel moet bly van ons aanbidding ten spyte van die COVID-19-pandemie. Vir hierdie rede het die Bestuursliggaam onlangs spesifieke riglyne voorsien aan takkantore regoor die wêreld oor hoe om gemeentelike vergaderinge aan te pas by die plaaslike omstandighede. In party gevalle beteken dit dat verkondigers in kleiner groepe bymekaar moet kom of deur middel van elektroniese middele soos video-oproepe “vergader”. Ons is vol vertroue dat die wêreldwye broederskap sal aanhou om voordeel te trek uit enige onderrigting of aanmoediging wat Jehovah se organisasie sonder ophou voorsien.

Dit is duidelik dat niks Jehovah se krag kan keer nie om ons as ’n organisasie te help sodat ons enige uitdaging kan oorkom. – Psalm 18:29.

a Die volledige program van die 148ste Gileadgraduering sal in Junie 2020 op jw.org beskikbaar wees.