Spring na inhoud

Die Koninkryksaal in Tortola voor en na die herstelwerk. Hierdie Koninkryksaal was een van vyf ander in die Britse en Amerikaanse Maagde-eilande wat deur die orkaan Maria beskadig is. Dit is ook heel eerste reggemaak.

19 JANUARIE 2018
WÊRELDNUUS

Getuies help met noodlenigingswerk ná skade deur orkane

Getuies help met noodlenigingswerk ná skade deur orkane

NEW YORK — In September 2017 het die orkane Irma en Maria gebiede in en om die Karibiese Eilande verwoes, en noodlenigingspogings het begin. Die volgende inligting van die takkantore in Barbados, Kuba, die Dominikaanse Republiek, Frankryk en die Verenigde State vertel ons meer oor die hulp wat ons broers gee.

Gebiede onder die takkantoor in Barbados — Anguilla, Antigua, Barbuda, Dominica en St. Maarten (Nederlandse deel)

Drie noodlenigingskomitees (DRC’s), insluitende een wat saam met die takkantoor in Frankryk gevorm is, het plaaslike broers en susters gereël om vir die onmiddellike behoeftes van die verkondigers wat deur die orkaan geraak is, te sorg. Die beplande herstelwerk in die gebiede onder die takkantoor in Barbados sal ongeveer R29 miljoen ($2,4 miljoen) kos. Dit sal insluit dat 8 Koninkryksale en 122 huise van ons broers reggemaak sal word. ’n Verdere 19 huise sal heeltemal herbou moet word.

Die Koninkryksaal in Grand Bay, Dominica, wat erg deur die orkaan Maria beskadig is.

Gebiede onder die takkantoor in Kuba

Die takkantoor het laat weet dat die verkondigers wat deur orkaan Irma geraak is, al die ondersteuning kry wat hulle nodig het. Dit sluit herdersbesoeke in deur verteenwoordigers van die takkantoor.

Gebiede onder die takkantoor in die Dominikaanse Republiek

Drie DRC’s het die noodlenigingswerk georganiseer om om te sien na die 57 verkondigers wat deur die ramp geraak is. Broers en susters in die omgewing het kos, water, klere en ander belangrike items geskenk. Teen die einde van Oktober was al die beskadigde huise skoon- en reggemaak, hoofsaaklik deur plaaslike vrywilligers.

Gebiede onder die takkantoor in Frankryk — Guadeloupe en St. Maarten

Die takkantoor het ’n DRC op die eiland St. Maarten gevorm sowel as ’n noodlenigingsentrum vir die streek op die eiland Guadeloupe om die noodlenigings-bouprojek te organiseer. Hierdie projek sal amper R17 miljoen ($1,4 miljoen) kos. Die werk sluit in dat 12 Koninkryksale op Guadeloupe en 2 Koninkryksale en 24 huise van ons broers in St. Maarten reggemaak sal word. Daar sal altesaam 22 konstruksievrywilligers van Frankryk, Guadeloupe en Martinique met die noodlenigingswerk help.

Die eiendom van ’n verkondiger in St. Maarten wat beskadig is ná orkaan Maria.

Gebiede onder die takkantoor in die Verenigde State — Britse en Amerikaanse Maagde-eilande, Florida, Georgia, Puerto Rico en die Turks- en Caicos-eilande

Meer as 13 000 verkondigers onder die gebiede van die takkantoor is geraak. Daar is nou vier DRC’s wat ons broers en susters help. Hulle is klaar met die eerste fase van die herstelwerk wat beteken dat meer as 95 persent van die beskadigde eiendomme, wat deur ons broers besit word, gestabiliseer is. Hulle het ook noodlenigingsvoorraad soos kos, klere en water gegee. Die herstelwerk is nog steeds aan die gang in Puerto Rico en die Britse en Amerikaanse Maagde-eilande.

’n Span maak een van die huise skoon van die meer as 3 200 verkondigers wat deur die orkane in Puerto Rico geraak is.

Altesaam 690 konstruksievrywilligers sal help met die herstelwerk van Koninkryksale en die regmaak van die broers se huise. Van hierdie vrywilligers gaan 450 na die eilande en 240 na Florida en Georgia. Die beplande herstelwerk sal ongeveer R360 miljoen ($30 miljoen) kos en die volgende insluit:

  • Britse en Amerikaanse Maagde-eilande – 5 Koninkryksale en 190 huise

  • Florida – 40 Koninkryksale en 1 174 huise

  • Puerto Rico – 106 Koninkryksale, 2 Byeenkomssale en 1 216 huise

  • Turks- en Caicos-eilande – 2 Koninkryksale en 56 huise

Ons bid dat Jehovah die hande sal versterk van dié wat help met die herstelwerk. Ons is vol vertroue dat die noodlenigingswerk en vertroosting wat uit die Bybel gegee word, ons broers sal help om ten volle te herstel en aan te gaan om ons groot God, Jehovah, saam te dien. — Nehemia 2:18.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Barbados: John Medford, +1-246-438-0655

Dominikaanse Republiek: Josué Féliz, +1-809-595-4007

Frankryk: Guy Canonici, +33-2-32-25-55-55

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000