Spring na inhoud

24 SEPTEMBER 2018
WÊRELDNUUS

Die verwoesting van tifoon Mangkhut

Die verwoesting van tifoon Mangkhut

Oor die verloop van ’n paar dae het tifoon Mangkhut baie skade in die westelike deel van die Stille Oseaan en die Suid-Chinese See veroorsaak. Die volgende verslae kom van die takkantore wat sorg vir ons broers en susters wat deur hierdie ramp geraak is.

Mikronesië: Op 10 September 2018 het tifoon Mangkhut Rota, een van die Noordelike Mariana-eilande, getref. Dit is die sterkste storm wat Rota sedert 2002 getref het. Ons is bly om te sê dat geen broers beseer is en dat die enigste Koninkryksaal op die eiland nie beskadig is nie. Een broer bly tydelik iewers anders terwyl sy huis reggemaak word. Die kringopsiener het die eiland intussen besoek om die broers en susters daar aan te moedig.

Filippyne: Op 15 September 2018 het tifoon Mangkhut (plaaslik bekend as “Ompong”) Baggao, in die provinsie Cagayan, Filippyne, getref. Mangkhut is die sterkste storm wat die Filippyne hierdie jaar getref het. Die aantal slagoffers neem nog toe, en daar is nou al 81 mense dood.

Ongelukkig is een suster van Benguet in tifoon Mangkhut dood en is vier broers beseer. Dit lyk asof 938 huise van ons broers beskadig is en 15 huise heeltemal vernietig is. Ten minste 28 Koninkryksale is beskadig, waarvan een heeltemal vernietig is in ’n grondstorting. Vier noodlenigingskomitees (DRC’s), wat in Baguio, Cauayan, Laoag en Tuguegarao is, sorg vir die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van ons broers en susters. In die komende dae sal ’n lid van die Takkomitee die broers besoek om hulle aan te moedig.

Hongkong: Op 16 September 2018 is Hongkong deur Mangkhut getref. Dit het min skade aangerig aan die takkantoor en ’n woonstelblok waar die Bethel-gesin woon. Twee huise wat deur Getuies besit word, is erg beskadig. Een huis is beskadig toe ’n boom daarop geval het, en ’n ander is beskadig toe sterk winde die dak afgewaai het. ’n Paar ander huise is deur water beskadig. ’n DRC in Hongkong sorg vir die onmiddellike behoeftes van die broers.

Ons gedagtes en gebede is met ons broers en susters wat deur tifoon Mangkhut getref is. Dit is vertroostend om te weet dat ons mede-aanbidders ons broers in die rampgebiede liefdevol help. Ons verenigde geestelike familie is regtig ’n seën van Jehovah. — Spreuke 17:17.