Spring na inhoud

22 MEI 2024
ZIMBABWE

Getuies deel die goeie nuus met mense wat Chitonga (Zimbabwe) praat gedurende ’n spesiale kampanje

Getuies deel die goeie nuus met mense wat Chitonga (Zimbabwe) praat gedurende ’n spesiale kampanje

Vanaf 13 April tot 27 April 2024 het Jehovah se Getuies van regoor Zimbabwe aan ’n predikingskampanje in Chitonga (Zimbabwe) deelgeneem. In Zimbabwe bly baie van die 300 000 mense wat Chitonga (Zimbabwe) praat, in die platteland van die Binga-streek in die noordweste van die land. Dit is ’n uitdaging om almal in die gebied te bereik, aangesien daar net sowat 300 Getuies is wat in agt Chitonga- (Zimbabwe) gemeentes dien.

Die kampanje het baie goeie resultate gehad. Gedurende die eerste naweek van die kampanje het 77 belangstellendes die vergadering by een gemeente bygewoon. En die volgende naweek het 126 belangstellendes dit bygewoon. Altesaam is meer as 2 000 Bybelstudies begin.

Terwyl ons broers in ’n dorpie gepreek het, is hulle deur ’n vrou en haar kinders gegroet. Die verkondigers het gevra om met die hoof van die gesin te praat. Toe die vrou se man daar aankom, het hy homself voorgestel as die dorpie se hoofman, ’n tradisionele leier. Hy was baie bly dat die broers hom gerespekteer het deur te wag om eers met hom te praat. Hy was opgewonde om vir hulle sy kopie van die Bybel in Chitonga (Zimbabwe) te wys. En die broers het toe vir hom gewys hoe ons mense help om die Bybel te studeer. Reëlings is getref sodat hy met sy Bybelstudie kan aanhou. Die man het die broers ook toestemming gegee om in die ander dorpies wat onder sy toesig is, te preek.

Twee broers wat in ’n dorp gepreek het, het ’n man ontmoet wat gesê het dat hy een van Jehovah se Getuies is. Die man het verduidelik dat die Getuies in 1993 sy pa gekontak het. Sy pa het die Bybel begin studeer, maar nadat sy familie ’n hele paar keer getrek het, het hy kontak met die Getuies verloor. Die twee broers wou baie graag die man se pa ontmoet. Daarom het hulle die volgende dag ’n uur en ’n half geloop om die familie in die man se dorpie te besoek. Die pa was baie bly om die broers te sien en het vir hulle vertel dat hy en sy vrou vroeër daardie dag gebid het dat die Getuies moet kom. Die hele familie het ingestem om die Bybel te studeer, en hulle almal het die vergadering in die week bygewoon. Hulle het selfs een van hulle bure saamgebring.

’n Suster deel die Bybel se boodskap met ’n vrou by ’n gemeenskaplike waterkraan

’n Suster met die naam Alicia het ’n bejaarde vrou ontmoet wat ’n uitnodiging aanvaar het om die gemeentelike vergadering by te woon. Toe Alicia daar aankom om haar op te tel, het die vrou vir haar gewag en ’n vriend genooi om saam te kom. Ná die vergadering het die bejaarde vrou gesê: “Daar is geen twyfel dat God met julle mense is nie. Julle was so liefdevol en vriendelik teenoor my dat ek graag weer wil kom.”

Ons is bly saam met ons broers en susters in Zimbabwe oor die goeie uitwerking wat die kampanje op mense gehad het. Dit herinner ons dat ons pogings om in alle wêrelddele ywerig ‘saad te saai’, sal aanhou om suksesvol te wees. – Prediker 11:6.