Spring na inhoud

20 APRIL 2022
ZIMBABWE

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chitonga (Zimbabwe) vrygestel

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chitonga (Zimbabwe) vrygestel

Op 10 April 2022 het broer John Hunguka, ’n lid van die Takkomitee in Zimbabwe, die digitale uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chitonga (Zimbabwe) vrygestel. Die vooraf opgeneemde program is na ’n gehoor van omtrent 500 mense gestroom. Gedrukte kopieë sal in Julie 2022 beskikbaar wees.

Chitonga word hoofsaaklik gepraat deur die Tonga-mense wat in die suidelike en westelike provinsies van Zambië en in die noorde van Zimbabwe bly. In 2014 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Chitonga, wat in Zambië gepraat word, vrygestel. Hierdie taal is verwant aan Chitonga (Zimbabwe). Dit is die eerste keer dat ’n Bybel in Chitonga (Zimbabwe) vertaal en uitgegee is. Die mense wat Chitonga (Zimbabwe) praat, het voorheen net vertalings in Chitonga wat in Zambië gepraat word, gebruik.

Alhoewel Zambiese Chitonga en Chitonga (Zimbabwe) soortgelyk is, is daar drastiese verskille in die betekenis van sekere woorde en frases. Byvoorbeeld, in 1 Johannes 3:17 in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Zambiese Chitonga sê dit dat ’n Christen medelye aan sy broer wat “gebrek ly”, moet betoon. Maar in Chitonga (Zimbabwe) beteken hierdie selfde frase ’n broer wat “mal” is. Die vertaalspan het die taal aangepas om die regte gedagte oor te dra aan mense wat Chitonga (Zimbabwe) praat.

Party van die geboue van die Chitonga (Zimbabwe)-vertaalkantoor wat in Binga, Zimbabwe, is

Een van die vertalers het gesê: “In die verlede het ek baie tyd in die bediening spandeer om die woorde in die verse aan die huisbewoners te probeer verduidelik. Nou kan ek net die vers lees en toelaat dat God se Woord die praatwerk doen.”

Ons is bly saam met ons broers en susters wat Chitonga (Zimbabwe) praat omdat hulle hierdie nuwe vertaling kan gebruik om die “pad van die lewe” aan baie meer opregte mense bekend te maak. – Psalm 16:11.